Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Al hoe meer kinders betrokke by hondegevegte

Daar is groot kommer oor die toenemende hondegevegte wat in Ocean View en ander gebiede op die Kaapse Vlakte voorkom.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê in ’n verklaring leerlinge begin ook toenemend betrokke raak by hondegevegte.

’n Beseerde hond ná ’n hondegeveg. Foto: Kaap de Goede Hoop-DBV

Die honde word glo dikwels vir die gevegte gesteel en doodgemaak wanneer hulle gevegte verloor.

“Hondegevegte kan dikwels verbind word met ander vorme van misdadige gedrag soos dobbelary, handel met onwettige stowwe of middels en prostitusie.”

Tara McGovern, woordvoerder van die Kaap de Goede Hoop-Dierebeskermingsvereniging (DBV), sê by navraag 35 klagte is sedert April vanjaar aangemeld. Dit sluit in voorvalle waar gevegte nog aan die gang is of beweringe van honde wat aangehou word.

Twee van dié klagte het in die hof beland en die nasionale vervolgingsgesag het nog nie vervolging geweier nie.

Die DBV sorg vir drie honde wat uit dié omstandighede gered is.

Enige honde kan slagoffers word, maar dikwels is honde soos pitbulls die teiken, sê McGovern.

“Onwettige dobbelary is ’n deel van ’n hondegeveg en omdat geld betrokke is, is daar altyd wapens.”

Honde wat aan gevegte deelneem, word dikwels verskeur, het gebreekte of gekneusde bene en gebreekte tande.

Volgens die DBV kan mense wat skuldig bevind word aan die aanbied van hondegevegte met tot R300 000 beboet word of 15 jaar tronkstraf opgelê word.

Mense wat hondegevegte aanmeld, moet verkieslik konkrete bewyse soos foto’s en video’s – mits dit veilig gedoen kan word – hê sodat dit by die hof ingedien kan word, sê McGovern.

Fritz sê sy departement sal die kwessie verder ondersoek en aan ’n veiligheidsplan werk om dit op lang termyn te takel.

Tekens dat moontlike hondegeveg-aktiwiteite plaasvind:

* Pitbulls word aan swaar kettings vasgebind.

* Talle pitbulls op een eiendom wat ongesteriliseer, antisosiaal of onvriendelik teenoor ander honde is.

* Bewyse van herhaalde beserings.

* Plekke wat soos gevegsones lyk met bloedspatsels op die vloer of mure.

* Oefentoerusting of veeartsenykundige medisyne of steroïede op die perseel.

* Gereelde vervanging van honde by een eiendom. Soos honde doodgemaak word, word ander dikwels aangekoop.

Wat eienaars kan doen om honde veilig te hou:

* Maak seker dat jou erf veilig en omhein is.

* Kry ’n ingeplante opsporingskyfie vir jou hond sodat hy of sy maklik geïdentifiseer kan word.

* Moenie honde sonder toesig in tuine of buite winkels los nie.

* Moenie inligting oor jou hond vir vreemdelinge gee nie.

* Steriliseer jou honde sodat hulle minder aanloklik vir diewe is. Hulle kan dan nie as teelhonde gebruik word nie en word ook as minder aggressief beskou.

* Maak seker dat jou hond sal terugkom as jy hom roep voordat jy sy leiband afhaal.

* As jou hond wel gesteel word, meld dit onmiddellik aan.

Mense met inligting oor hondegevegte kan dit anoniem by die Dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika by 021 692 2626 aanmeld of hulle kan die DBV by 011 907 3590 bel. ’n E-pos kan ook na specialinvestigations@nspca.co.za gestuur word of dit kan by die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 of per SMS by 32211 aangemeld word.

Meer oor:  Dbv  |  Kaapstad  |  Hondegevegte  |  Dieremishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.