Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Alaska-moord: SA verdagte glo ’n ‘stil ou’

“Ek was so geskok toe ek dit hoor,” het ’n ou klasmaat Vrydag gesê oor die nuus dat die Suid-Afrikaner Brian Steven Smith (48) na bewering ’n vrou in Anchorage in Alaska, VSA, vermoor het. Daar is glo video’s en foto’s van die moord geneem.

Brian Steven Smith met sy hofverskyning in Anchorage.Foto: AP Images

Smith van Queenstown in die Oos-Kaap, wat sedert 2014 in Anchorage woon en met ’n Amerikaner getroud is, word daarvan beskuldig dat hy Kathleen Jo Henry (30) vroeg in September vanjaar vermoor het.

Die polisie het die identiteit van sy vermeende slagoffer Vrydag om 02:00 Suid-Afrikaanse tyd bekend gemaak.

Smith is op 8 Oktober op die Ted Stevens-lughawe in Anchorage in hegtenis geneem.

“Ek het langs Brian op die skoolbanke gesit en sou nooit kon raai hy dat só iets sou kon doen nie. Ons het ook saam gewerk nadat ek uit die weermag gekom het,” het die klasmaat, wat gevra het om anoniem te bly, aan Netwerk24 gesê.

“Ons het amper elke dag saam werk toe gery omdat ons op dieselfde dorp vir dieselfde baas gewerk het. Jy dink jy ken iemand, maar dan ken jy hulle eintlik glad nie.”

Die klasmaat sê hy en Smith was van laerskool af saam op skool. Smith het Queen’s College in Queenstown, ’n seunskool, in die 1980’s verlaat om matriek aan ’n tegniese skool te gaan behaal.

“Ek het in 1989 gematrikuleer maar Smith het egter die skool verlaat toe hy in gr. 11 was. Ek het hom toe twee jaar lank glad nie gesien nie omdat ek ná skool weermag toe is.”

In 1991 het hy en Smith vir dieselfde baas in die Oos-Kaap begin werk.

Brian Steven Smith (48) van Queenstown in die Oos-Kaap, wat in Anchorage in Alaska in vir die beweerde moord op ’n vrou in hegtenis geneem is. Foto: Facebook/ Brian Smith

“Hy was so ’n stil ou en het stiller geword nadat sy pa dood is. Sy pa was siek. Hy het nie wild partytjie gehou nie en was maar baie eenkant. Hy het ook nie aan sport deelgeneem nie.”

Brian Steven Smith se klasmaat het hom as ’n ‘stil ou’ beskryf. Dié foto is in 1985 geneem. Foto: Verskaf

Debbie Driessel, wat in Port Elizabeth woon, sê sy en haar man kon dit nie glo toe hulle die nuus gehoor het nie. “Hy is ’n wonderlike, fantastiese man. Ons het hom jare geken voordat hy oorsee getrek het.”

Sy sê Smith se suster het hulle destyds aan mekaar voorgestel. “Ek het vir haar genoem dat ek probleme met my rekenaar het. Sy het gesê ek moet met haar broer, Brian, praat. Ons het vriende geword en hy het altyd gekom as ek hulp met my rekenaar nodig gehad het.”

Volgens Driessel is Smith ’n kalm en saggeaarde mens wat nooit sy stem verhef het nie. “Hy het altyd ontspanne gelyk, selfs al was hy dalk gestres. Ek was dikwels alleen saam met hom in die huis wanneer hy my rekenaar kom regmaak het. Ek het nooit bedreig, bang of ongemaklik gevoel nie.”

Sy sê die Smith wat sy en haar man ken, klink nie soos die man wat nou in die Amerikaanse media uitgebeeld word nie.

Sedert hy getrek het, het hulle nie weer met hom gepraat nie, maar wel op Facebook kontak behou.

Past. Carol George van die St. Mark-gemeente in Anchorage het Vrydagoggend aan Netwerk24 gesê sy het Smith en Stephanie Bissland, ’n Amerikaanse staatsamptenaar en musikant, in Mei 2014 getrou, maar sy ken hom nie. “Ek is eintlik sy vrou se predikant. Ek het sedert die troue nog nooit weer met Brian gepraat nie.”

Smith is in hegtenis geneem nadat die polisie op 30 September ’n oproep van ’n bekommerde inwoner ontvang het. Sy het gesê sy het ’n geheuekaart in die Fairview-buurt in Anchorage opgetel wat bewyse van ’n moord bevat.

Brian Steven Smith saam met sy vrou, Stephanie Bissland, op 27 Maart 2014 voordat hulle in Mei getroud is. Foto: Facebook/ Brian Smith

Die vrou het in ’n verklaring gesê dat “Moord in Marriott-middestad” op die geheuekaart geskryf staan.

Daar was glo 12 video’s en 39 foto’s van die beweerde moord op die geheuekaart.

Die polisie kon Smith glo identifiseer weens ’n vorige saak wat teen hom ondersoek word. Hulle wou nie oor dié saak uitwei nie.

Brian Steven Smith word daarvan verdink dat hy Kathleen Jo Henry (30) vermoor het. Foto: Facebook/ Kathleen Henry

Soos vroeër berig is ’n kaal vrou in die video’s te sien waar sy in ’n hotelkamer op die vloer lê en geslaan word. Sy is glo ook gewurg en daar kan gesien word hoe op haar keel getrap word.

Die vrou het luidens ’n verklaring probeer terugbaklei. Van die foto’s en video’s wys hoe haar lyk in ’n wit laken toegedraai is en na ’n bakkie op die parkeerterrein geneem word.

Henry is oorspronklik van Eek, ’n afgeleë kusdorp in die weste van Alaska. Haar laaste Facebook-inskrywing was op 29 Augustus waarin sy sê dat sy ’n “tawwe” Alaska-meisie is.

Sy het met trots gesê sy het haar hoërskooldiploma in 2012 op 23-jarige ouderdom verwerf, terwyl sy in die Hiland Mountain-tronk vir vroue in Anchorage was.

Dit is nie bekend waarvoor sy tronkstraf uitgedien het nie.

Meer oor:  Anchorage  |  Queenstown  |  Oos-Kaap  |  Alaska  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.