Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Allanridge gevaarlikste in Goudveld

Allanridge is die gevaarlikste dorp in die Goudveld, terwyl dié dorp en Virginia albei ’n skerp toename in misdaad ondervind het.

Ventersburg is die enigste dorp in die gebied wat kan spog met minder eiendomsmisdaad en nie ’n enkele moord nie.

Bykans alle ernstige misdade het skerp in Allanridge toegeneem.

Daar is in die 2018-’19-boekjaar 12 moorde gepleeg, vergeleke met nege die vorige jaar, wat ’n 33,3%-toename is. Dit blyk uit die jongste nasionale misdaadstatistieke wat Donderdag in die parlement bekend gestel is.

Poging tot moord het met 450% van twee voorvalle na 11 toegeneem en seksuele misdrywe het met 37,9% van 29 tot 40 voorvalle gestyg.

Roof met verswarende omstandighede het van 14 na 38 toegeneem, ’n styging van 171%.

Inwoners en sakelui in die dorp het ook onder huis- en sakerowe deurgeloop met huisrowe wat van drie voorvalle tot tien gestyg het, ’n toename van 233%.

Sakeroof het bykans verdubbel van ses voorvalle na 11, ’n toename van 83%.

Dwelmverwante misdade en oortredings van die Wet op Vuurwapens het met 40% afgeneem.

Allanridge en die Nyakallong-township se skerp styging in misdaad is egter nie al wat inwoners moet bekommer nie.

Dié dorp is een van die gevaarlikste plekke in die Vrystaat.

Met ’n geskatte inwonertal van 20 000 beteken dit die gebied se moordsyfer staan op 60 per 100 000, ver bo die nasionale gemiddelde van 36,4 per 100 000.

Virginia se inwoners sal ook nie rustig slaap nie omdat moorde, seksuele misdrywe, sowel as rooftogte by huise en ondernemings gestyg het.

Virginia se moordsyfer het skerper as dié van Allanridge gestyg en met 37% van agt moorde na 11 toegeneem.

Huisrowe het van tien na 17 toegeneem, ’n styging van 70%, terwyl sakerooftogte met 47% van 19 na 28 gestyg het.

Virginia, met ’n geskatte inwonertal van 22 000, se moordsyfer is 50 per 100 000.

Ventersburg se inwoners sê hulle kon beslis die afgelope jaar agterkom dat die dorp minder misdaadprobleme het. Keith Rhode, ondervoorsitter van die dorp se buurtwag, sê die afname in inbrake, huisrowe en ander eiendomsverwante misdaad is danksy groter gemeenskapsbetrokkenheid.

Inwoners van Ventersburg en Mmamahabane werk saam om die gebied veilig te hou. Inwoners wat te voet die dorp en township patrolleer, maak beslis ’n verskil, sê Rhode.

Hy sê egter daar is effens kommer omdat dit lyk asof daar die afgelope paar weke weer meer diefstal gepleeg is.

Inbrake by woonplekke het die afgelope jaar met 14% afgeneem, terwyl daar geen huisrowe was nie.

Meer oor:  Misdaadstatistieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.