Die Nasionale Jag-en-sportskietvereniging (NHSA) en die polisie het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria ’n skikking oor die vuurwapen-amnestie bereik.
Dit polisie het ingestem om die aansoeke vir die hernuwing van sertifikate van bevoegdheid om ’n vuurwapen te besit, sowel as aansoeke vir nuwe vuurwapenlisensies gelyktydig in te neem.

Ter illustrasie.Foto: Argief
Die polisie het hiertoe ingestem nadat die NHSA in sy dringende aansoek sekere probleme uitgewys het in die amnestie-proses wat tot nadeel van vuurwapeneienaars sou wees, sê dr. Herman Els, uitvoerende voorsitter van die NHSA.
“Ons het geskik op voorwaarde dat die polisie se voorskrif na alle polisiekantore gestuur sal word,” sê Els.
“Ons het ook gevra dat die polisie dié mense wat hul vuurwapenlisensies hernu, moet toelaat om die wapens in hul besit te hou. Dit is omdat die polisie dan al die aansoeker se inligting het en presies weet waar hierdie aansoeker woon.
“Ons het dit gevra omdat die mense nie die polisie met die veilige bewaring van vuurwapens vertrou nie.
“Die polisie het egter geantwoord dat die wet nie daarvoor voorsiening maak nie. Hy kan dus nie ’n vergunning daarvoor maak nie omdat dit strydig met die wet is.”
Els sê die NHSA se aanbeveling aan sy lede is om, as hy of sy ’n vuurwapen het waarvan die lisensie verval het, aan die amnestieproses deel te neem.
“Ons raai ons lede aan om eers ’n waardasie by ’n wapensmid vir ’n betrokke vuurwapen te kry voordat hulle dié wapens by die polisie gaan inhandig.
“As die vuurwapen dan wegraak, het jy ’n dokument waarvolgens jy ’n eis kan instel.”
Dit het ons én die staat nou duisende rande gekos om by hierdie eenvoudige administratiewe reëling uit te kom.
Els sê die NHSA en die polisie kon baie geld gespaar het “as ons vooraf om ’n tafel oor die saak kon gepraat het”.
Hy sê die polisie kon baie probleme voorkom het as hy vooraf met geakkrediteerde vuurwapenverenigings gepraat het.
“Dit het ons én die staat nou duisende rande gekos om by hierdie eenvoudige administratiewe reëling uit te kom.”
Die organisasie Gun Free SA het in ’n verklaring gesê hy verwelkom die NHSA se besluit om sy dringende aansoek terug te trek.
Adèle Kirsten, uitvoerende direkteur van Gun Free SA, sê met die vorige amnestietydperke in 1994, 2005 en 2010 is meer as 120 000 vuurwapens en 1,8 miljoen patrone ingehandig.
Dit is ’n bewys dat amnestietydperke soos die huidige een, wat tot die einde van Mei duur, suksesvol is.
Sy sê verlede jaar is meer as 9 600 vuurwapens gesteel of het verlore geraak. Hiervan het 607 aan die polisie behoort.