Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Amnestie: Polisie ontvang reeds talle wapens

Altesaam 2 266 vuurwapens en meer as 31 000 patrone is sedert die begin van Desember by polisiekantore landwyd ingehandig as deel van die jongste amnestieveldtog.

So het Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdagoggend by die Linden-polisiekantoor in Johannesburg gesê.

“Die amnestie is reeds ’n groot sukses. Elke wapen wat ingehandig word, is ’n sukses want dit is een minder vuurwapen wat vir misdaad gebruik kan word,” sê Cele.

Die amnestietydperk verstryk aan die einde van Mei.

Chris van der Bergh, ’n Johannesburgse wapenhandelaar, het Dinsdagoggend by die geleentheid by die Linden-polisiekantoor 298 vuurwapens aan die polisie oorhandig.

Genl. Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag op die nuuskonferensie by die Linden-polisiekantoor in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Van der Bergh het aan Netwerk24 gesê die gebou waarin sy winkel is, word gesloop en hy het besluit om “skoon te maak” voordat hy moet trek.

“Van die wapens in die winkel het nie meer kommersiële waarde nie en ek wou van hulle ontslae raak.”

Hy het Cele se kantoor geskakel en dié het polisiebeamptes na sy winkel gestuur om te help met die proses.

Volgens Cele is 527 vuurwapens reeds in Gauteng ingedien, 514 in die Wes-Kaap en 309 in KwaZulu-Natal.

“Dit is goed so, want dié drie provinsies is die provinsies waar die meeste moorde met vuurwapens gepleeg word.”

Die meeste mense in Suid-Afrika wat vermoor word, word geskiet, sê Cele, wat in ’n stadium self die land se polisiehoof was.

Hy is op die mediakonferensie vergesel van onder andere Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, en genl. Khehla Sitole, polisiehoof.

“Ons is baie dankbaar dat Suid-Afrikaners in sulke groot getalle aan die amnestie deelneem. Ek glo die getal vuurwapens wat ingehandig word, sal nog toeneem, want Desember was vakansietyd,” sê die minister.

Cele sê hy en die polisie is ook baie bly oor die groot getal patrone wat al ingehandig is.

“Jy het net een koeël nodig om ’n mens mee dood te maak.”

Al die vuurwapens wat ingehandig word, sal ballisties deur die polisie getoets word om vas te stel of dit in ’n misdaad gebruik is.

Cele sê daar sal ná die amnestietydperk streng opgetree word teen mense wat onwettige wapens in hul besit het.

Volgens hom word die wapens wat by polisiekantore ingehandig word, na plekke van veilige bewaring in die onderskeie provinsies geneem.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Vuurwapen-Amnestie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.