Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Amptenaar oor watermeters vasgetrek

Die polisie se bom-eenheid in die Port Elizabeth het ’n plaaslike munisipale amptenaar vasgetrek wat glo met gesteelde watermeters by ’n skrootmetaal-onderneming opgedaag het.

Saveriano Stephens (26), ’n amptenaar van die Nelson Mandelabaai-metro-munisipaliteit se waterdepartement, het Woensdag op ’n aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die landdroshof in New Brighton verskyn.

Stephens is Dinsdag in hegtenis geneem nadat lede van die polisie se bom-eenheid hom glo vroeër die dag by ’n skrootmetaal-onderneming betrap het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die polisie het omstreeks 12:00 in Cresswell-weg, Sydenham, patrolliewerk gedoen toe hulle ’n munisipale voertuig naby die skrootmetaal-onderneming sien stilhou.

Die munisipaliteit veroordeel enige vorm van diefstal, maar soveel te meer wanneer items gesteel word wat vir die dienslewering aan die inwoners bestem was.
Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder

“ ’n Man, wat twee sakke dra, het uitgeklim en die perseel binnegegaan. Die polisie het hom agtervolg. Terwyl hulle navraag gedoen het, het hulle die sak op die vloer gesien. Die munisipale werker het die gebou haastig verlaat,” sê Naidu.

By verdere ondersoek het die polisie 60 splinternuwe watermeters met ’n waarde van sowat R35 000 in die sakke aangetref.

Verdere ondersoekwerk het die polisie na die munisipale kantoor in Kabegapark gelei, waar Stephens uitgeken is.

Volgens Naidu het die bestuurder die watermeters as die munisipale waterdepartement se eiendom uitgeken.

Stephens is Woensdag op borgtog van R300 vrygelaat. Die saak is tot 14 Junie uitgestel.

Naidu sê verdere aanklagte, asook die moontlike inhegtenisneming van nog munisipale werkers, kan binnekort volg.

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het Donderdag in reaksie op die voorval gesê die munisipaliteit sal sy eie interne ondersoek na die beweerde voorval en betrokke man hou.

“Die munisipaliteit veroordeel enige vorm van diefstal, maar soveel te meer wanneer items gesteel word wat vir die dienslewering aan die inwoners bestem was.

“In dié stadium versamel ons steeds inligting in die betrokke saak. Ná ons interne ondersoek sal dissiplinêre stappe gedoen word, indien nodig,” sê Mniki.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.