Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Amptenare, nog 2 in Vrystaat gevang vir ARM’s, plofstof

Twee amptenare van die Vrystaatse gesondheidsdepartement en nog ’n werknemer van ’n kliniek in Virginia verskyn Vrydag saam met nog twee mans in die hof nadat hulle Woensdag in hegtenis geneem is vir die besit van vermoedelike gesteelde antiretrovirale middels (ARM’s) en plofstof.

Vyf mense is Woensdag in Meloding, Virginia, in hegtenis geneem toe hulle met antiretrovirale middels en plofstof in hul besit betrap is. Foto: André Damons

Die polisie het Woensdagmiddag op ’n huis in Stiltepark, Meloding, toegeslaan en die ARM’s en plofstof daar gevind.

Dit is die vierde voorval vanjaar waar mense vir die onwettige besit van ARM’s in die Vrystaat aangekeer is.

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, sê beamptes van Welkom se teenbende-eenheid het op inligting reageer en ’n 30-jarige man by die huis gevind. Hulle het die huis deursoek en op die middels en plofstof in ’n kamer afkom. Die man is in hegtenis geneem.

Verdere ondersoek het daartoe gelei dat die polisie nog ’n 30-jarige man op dieselfde aanklagte aangekeer het.

Drie vroue, onderskeidelik 43, 51 en 52 jaar oud wat in die Khothalang-kliniek in Meloding, Virginia, werk, is kort daarna in hegtenis geneem vir die beweerde diefstal van die ARM’s.

Dit is nog onseker waar die mans die plofstof gekry het en waarvoor hulle dit wou gebruik.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê die middels is vermoedelike gesteel en aan “plaaslike kontakte” oorhandig om dit na Kimberley te vervoer waar dit glo verkoop sou word.

In die huis is 170 bottels Tribuss, wat saam 4 460 pille bevat, en 213 bottels Atroiza, met 5 964 tablette, gevind en gekonfiskeer.

Die antiretrovirale middels (ARM’s), wat in die huis gevind is, is vermoedelik by die Khothalang-kliniek in Meloding, Virginia gesteel. Foto: Verskaf
Die polisie het ook op hierdie plofstof in die huis in Stiltepark, Meloding, afgekom. Foto: Verskaf

Volgens Mvambi is Montseng Tsiu, LUR vir gesondheid in die provinsie, “woedend” en geskok oor die nuus van die beweerde diefstal.

Tsiu sê in ’n verklaring dit is onaanvaarbaar dat diegene wat daarmee vertrou word om gesondheidsorg aan die publiek te bied, diegene is wat saamsweer om die siekes en kwesbares van dié noodsaaklike en lewensreddende middels te besteel.

“Ek vertrou dat die wetstoepassers al die nodige bewyse sal bekom en ’n sterk saak sal voorlê vir ’n lang tronkstraf vir die oortreders,” sê sy.

* Twee mans, onder wie ’n werknemer van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, is op 9 Januarie in Bloemfontein in hegtenis geneem toe hulle met vermoedelik gesteelde ARM’s betrap is. By dié mans is 1 068 bottels pille gevind.

* ’n Dag later is nog twee mans en ’n vrou, in Ventersburg aangekeer toe hul motor afgetrek en 265 bottels ARM’s daarin gevind is.

* Op 23 Januarie is drie mans en ’n vrou ook in hegtenis geneem nadat die polisie op inligting reageer het dat hulle ARM’s vervoer. Hulle was in ’n motor na Thabong, Welkom, onderweg. Die polisie het twee bokse met 160 bottels pille in die motor gevind.

Meer oor:  Vrystaat  |  Virginia  |  Plofstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.