Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Amy’Leigh: 3 verdagtes apart aangehou

Die drie verdagtes wat in verband met Amy’Leigh de Jager se ontvoering gearresteer is, word by verskillende polisiekantore aangehou.

Amy’Leigh de Jager (6).

Luidens bronne het die 27-jarige onderwyseres, die 40-jarige vrou en 50-jarige man geen kontak met mekaar nie.

Die drie is Woensdagaand en Donderdagoggend by hul onderskeie huise in Vanderbijlpark in hegtenis geneem.

Volgens die polisie was hulle die “drie hoofrolspelers wat vir die ontvoering verantwoordelik was”.

Dit blyk dat die twee ouer verdagtes naby mekaar op kleinhoewes woon, en dat hulle verlangs familie is.

Die ouer vrou het glo die wit Toyota Fortuner verskaf wat vir die ontvoering gebruik is.

Sover bekend, het die onderwyseres én die ouer vrou kinders.

Die verdagtes verskyn na verwagting Maandag in die hof in Vanderbijlpark op aanklag van ontvoering.

Niemand anders is intussen in hegtenis geneem nie.

Die onderwyseres se 66-jarige pa het Vrydag gesê hy kon nog nie self met sy dogter praat nie, maar sy seun kon ’n boodskap namens hom aan sy dogter oordra: “Ons is lief vir jou en ons sal jou nie los nie.”

Hy het in trane bygevoeg: “Hoe dink jy voel ’n pa se hart wat hierdie goed van sy dogter gehoor het?”

Hy wou nie verder kommentaar lewer nie, omdat hy nie sy dogter se saak wil benadeel nie.

Hy het vir Netwerk24 ’n lied deur die geestelike sanger Danie Botha gestuur, wat hy sê sy boodskap vir sy dogter is. Die lirieke van “Hou net vas” lui onder meer:

Die landdroshof in Vanderbijlpark waar die drie verdagtes na verwagting Maandag in verband met die ontvoering van Amy’Leigh de Jager sal verskyn. Foto: Isabel Venter

“Voel jy of alles en almal vergeet, niemand en niks meer van jou weet;

“Of die golwe jou verpletter in die lewe van die see, met ’n woedende stem vir jou skree?

“Hoor dan die stem van Jesus die Heer. Ek sal jou nooit verlaat of vergeet.”

Die onderwyseres was tydens die voorval by die skool op haar pos in die klaskamer. Sy het ná die ontvoering verskeie stemnotas op ’n WhatsApp-groep vir ouers gestuur waarin sy glo onder meer “belowe” het dat sy hul kinders met haar lewe sal oppas.

Sy waarsku ouers ook teen “sickos” daarbuite.

In een van die boodskappe, wat deur verskeie ma’s bevestig is, sê ’n stem, vermoedelik dié van die juffrou, dat sy ’n “versoekie het vir dié wat wil” om ’n “geldjie” te stuur of te bring, sodat sy daardie Maandagmiddag “blomme of ’n hampertjie of ietsie” namens haar klas vir “Angeline-hulle” kan neem.

“ . . . Om te sê ons dink aan hulle, want dis verskriklik (die ontvoering), ’n mens kan jouself nie indink nie, né,” eindig die boodskap.

Dit was ook deur die loop van Maandag dat Amy’Leigh se pa, Wynand, verskeie oproepe gekry het waarin ’n losprys geëis is. Dit het glo begin by R2 miljoen, maar is in ’n stadium verhoog.

Die polisie se gyselaaronderhandelaars is ook by die ondersoek betrek en Dinsdagoggend vroeg is Amy’Leigh op straat gevind.

Die losprys is nooit betaal nie.

Meer oor:  Amy’Leigh De Jager  |  Vanderbijlpark  |  Losprys  |  Amy’Leigh
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.