Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Amy’Leigh: ‘Dit was twee ooms’

Amy’Leigh de Jager sê dis “’n wit oom en ’n swart oom met stokkieshare” (rastalokke) wat haar aangehou het.

Die sesjarige meisie van Vanderbijlpark het Dinsdagoggend omstreeks 02:00 bibberend aan haar twee weldoeners gesê sy is ontsaglik dors.

Almal weer veilig saam.
Die De Jagers Woensdagaand saam met Shawn Delport (middel) nadat hulle by sy kroeg, Gas Monkey, gaan eet het. Van links na regs is pa Wynand, Amy’Leigh, haar boetie, Jayden, en hul ma, Angeline. Delport sê hy is ’n goeie vriend van die familie en hulle kuier gereeld saam.

Hendrik Brandt (25) en Savannah Kriel (22) het huis toe gestap nadat hulle in ’n kroeg gekuier het toe hulle die verskrikte Amy’Leigh gewaar. Die kind het aanvanklik weggehardloop, maar hulle het haar ingehardloop.

“Sy het gesê (haar ontvoerders) het haar in die straat afgelaai in ’n wit kar met swart strepe wat so groot is soos haar mamma se kar aan die binnekant.

“Sy het vir ons gesê die mans het (toe hulle haar afgelaai het) gesê sy moet na ’n blou kar in die straat loop, haar mamma is daar, maar sy het nie ’n blou kar gesien nie – en toe jaag hulle weg,” sê Brandt.

Die kind het gesê die “wit oom was die swart oom se baas”. Sy het ook vertel die ooms het vir haar gesê om te “sjarrap” toe sy gesê het sy is dors.

Savannah Kriel (22) en Hendrik Brandt (25) op die
Savannah Kriel (22) en Hendrik Brandt (25) op die plek in Heroultstraat, Vanderbijlpark, waar hulle die ontvoerde Amy’Leigh gekry het. Foto: Deon Raath

Hy en Kriel het Vrydag aan Rapport gesê hulle het dadelik vermoed dit is Amy’Leigh, want hulle het oor die nuus gehoor van die kind wat buite die Laerskool Kollegepark ontvoer is.

“Toe ek haar optel en sy sê sy is van haar ma gesteel, was ek lam van die skok.” Heroultstraat in Vanderbijlpark is ’n berugte, gevaarlike plek.

“Net nou die dag is ’n ou daar naby 36 keer met ’n panga gekap.

“Ek glo dit was God wat ons oor haar pad gestuur het,” sê Brandt.

Volgens hom het Amy’Leigh later meer begin praat en was sy veral bekommerd omdat sy ’n armbandjie van ’n maatjie gehad het wat sy die oggend van die ontvoering vir haar sou teruggee. “Ek het haar belowe ons vat haar na haar mamma toe en dat sy die armbandjie dan sal kan teruggee.”

Brandt het sy baadjie vir die kind gegee en hulle het 4 km ver met Amy’Leigh op hul rûe geloop na die naaste polisiekantoor waar haar ouers, Angeline (26) en Wynand (28) de Jager, gewag het op nuus oor hul kind.

'n Bekommerde Angeline de Jager wag by die polisie
'n Bekommerde Angeline de Jager wag by die polisiestasie in Vanderbijlpark dat haar dogtertjie Amy’Leigh gevind word.

Vir Angeline was dit die einde van die langste 18 uur van haar lewe waarin sy gesoek het na haar oogappel-dogter wat uit haar arms gegryp is by die skool. Die ontvoerder het haar seun, Jayden (5), ongedeerd agtergelaat.

Uit Angeline se Facebook-inskrywings blyk dit ’n ontvoering van haar kind was een van haar ergste vrese.

Sy het verlede jaar op 14, 23 en 27 Augustus asook op 7 en 11 September oor die ontvoering van kinders plasings gedoen en onder meer Eksodus 21:16 aangehaal: “Wie ’n ander ontvoer om hom te verkoop of om hom in sy besit te hou, moet doodgemaak word.”

Sy het verder geskryf: “Vader, ek pleit die bloed van Jesus oor elkeen van my kinders asook die kinders van my geliefdes en elke kind in ons dorp se skole. In Jesus naam maak ek elke deur toe waar die vyand ’n reg op ons kinders het a.g.v. ons ouers se sondes.”

Ná die trauma van die ontvoering het die volgende skok Donderdagoggend gekom toe Tharina Human, Jayden se gr. RR-onderwyser en Angeline se voormalige boesemvriendin, by haar huis weens die ontvoering in hegtenis geneem is.

Angeline het in ’n WhatsApp-boodskap, wat Rapport gesien het, aan ’n vriend geskryf: “Kan jy glo sy het so iets aan my kind gedoen?”

AmyLee de Jager (6)
Amy'Leigh de Jager

Die skokke het in golwe oor die Vaaldriehoek gespoel. Twee ander mense is saam met Human gearresteer. Rapport verneem die ander vrou (50) is ’n naeltegnikus by wie Human haar naels laat versorg het, en toe bevriend geraak het. Die man (40) wat gearresteer is, is glo vriende met die naeltegnikus.

In ’n WhatsApp-stemnota waarin die onderwyseres se pa oënskynlik praat en wat wyd rondgestuur is, het hy gesê hy glo sy dogter was betrokke by “daai ou dogtertjie se ontvoering” en dat sy glo geld nodig gehad het. Die egtheid van die boodskap kon nie bevestig word nie.

’n Familievriend van Human het aan Rapport bevestig dit is die onderwyseres se pa se stem. Jaco van Heerden, Human se prokureur, het aan Rapport gesê sy kliënt word voorlopig van ontvoering aangekla, maar die klagstaat moet nog gefinaliseer word. Hy wou nie verder kommentaar lewer nie.

’n Vriend van Human, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het aan Rapport gesê hy kan nie glo Human was na bewering met dwelms deurmekaar nie, want hy het gereeld saam met haar gekuier en sou geweet het.

Hy sê wel Human het finansiële probleme gehad.

“Die ouers van die skool het maar uitgehelp waar hulle kon en vir haar ekstra takies gegee, soos om soms van hul kinders by die huis te gaan aflaai ná skool, en haar daarvoor vergoed.”

Wynand de Jager en sy pa, Christo, het albei Saterdag gesê die familie wil nie met die media praat nie.

Shawn Delport, ’n familievriend van die De Jagers en die eerste mens wat Angeline gebel het met nuus oor die ontvoering, het aan Rapport gesê hulle het Angeline “lankal gewaarsku dat haar vriendskap met Tharina nie goed is nie. Sy was glad nie ’n goeie invloed op Angeline nie”.

Hy wou nie hierop uitbrei nie.

Hy bevestig ook dat Human en Angeline sowat twee maande gelede ’n heftige uitval gehad het.

“Ek is nie seker hoekom nie, maar dink dis omdat sy lelik was met die seuntjie in die klas. Maar dis nonsens dat sy huweliksprobleme het.

“Dit maak my woedend dat almal nou stories vertel wat die aandag aflei van die kwessie waaroor dit gaan – ’n onskuldige kind is ontvoer,” sê hy.

Delport is ontstoke oor die tientalle WhatsApp-stemnotas wat skinderbekke rondstuur.

In die een stemnota word beweer hy het eintlik ’n verhouding met Angeline.

“Ek is bombef**.

“Ja, Angeline het my gebel nadat Amy’Leigh ontvoer is, maar dis seker omdat sy nie haar man in die hande kon kry nie en ons is baie goeie vriende.

“Wynand het my kort daarna self gebel.”

Delport het self ’n beloning van R10 000 uitgeloof vir die terugkeer van Amy’Leigh.

Die ontvoerders het aanvanklik R2 miljoen as losprys geëis van Wynand.

Dit is nooit betaal nie.

Volgens Delport is die ouers baie dankbaar vir die weldoeners wat haar daardie nag polisiekantoor toe geneem het.

“Hulle sal hulle later uitvat vir ete of iets om dankie te sê.”

Brandt en Kriel was lank haweloos en verwys na hulself as “straatmense”, maar bly deesdae agter op iemand se erf.

Brandt vertel hy was juis Woensdagaand by ’n kerkbyeenkoms vir haweloses in die gebied toe hy ’n verskietende ster gesien het.

“Savannah het vir my gesê ek moet iets wens. Sy wou weet waarvoor ek gewens het, maar ek het stilgebly, anders gaan dit mos nie waar word nie.

“Toe ek Donderdagoggend hoor drie mense is vasgetrek, toe sê ek vir haar dat ek gewens het die ontvoerders moet gevang word.” Al drie gearresteerdes sal môreoggend in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn.

  • Rapport verneem betroubaar meer inhegtenisnemings kan volg.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.