Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
ANC-raadslid glo dronk deur tuinmuur
Die Ford-dubbelkajuitbakkie wat Tebogo Mamorobela (inlas) bestuur het toe sy Sondag eers teen ’n ander voertuig gebots en daarna deur ’n muur gebars het. Foto: Verskaf

’n ANC-raadslid van Limpopo, Tebogo Mamorobela (39), het weer met die gereg gebots. Dié keer omdat sy glo dronk bestuur het.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het bevestig Mamorobela is Sondag gearresteer “weens ’n vermoede dat sy onder die invloed bestuur het”.

Mamorobela, ’n raadslid van die Makhado-munisipaliteit in Louis Trichardt, is in April ook in hegtenis geneem op klagte wat met die oortreding van die inperkingsregulasies verband hou..

Skermgrepe van die video wat vir Tebogo Mamorobela, ’n ANC-lid van Limpopo, vele kritiek op die hals gehaal het. In die video kan gesien word hoe sy tydens die vlak 5-inperking met ’n bottel drank op ’n partytjie dans. Foto: Twitter

Sy het Sondag omstreeks 04:30 teen ’n ander voertuig gebots en in haar Ford-dubbelkajuitbakkie deur ’n tuinmuur gebars.

Niemand is ernstig beseer nie.

Mojapelo sê Mamorobela is na die Makhado-polisiekantoor geneem waar sy later vrygelaat is op waarskuwing om Maandag in die hof te verskyn.

Die saak is egter nie op die hofrol geplaas nie.

Volgens adv. Masia Masia, beheeraanklaer van die landdroshof in Louis Trichardt, was die dossier onvolledig.

Die ongeluksverslag en skets van die toneel was glo nie voltooi nie. Die uitslae van bloedtoetse was ook nie dadelik beskikbaar nie, sê Masia. Eers as die polisie die saak volledig ondersoek het, sal dit vir vervolging oorweeg word.

Mojapelo sê die polisie “sal hulle op die saak toespits”.

Mamorobela, wat in Maart nog die waarnemende burgemeester was, is steeds geskors weens die voorval in April. Dit het gevolg nadat ’n video van haar op sosiale media gedeel is waarin sy met ’n bottel drank in die hand, dans. Dit was na bewering op haar eie verjaardagpartytjie.

Sy het toe in die hof verskyn saam met Harold Muswobi (50) en Khathutshelo Matshusa (33). Hulle is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Die saak is intussen teruggetrek omdat die video nooit as bewysstuk ingedien is nie, het Masia gesê.

Dit is volgens Mojapelo omdat die persoon wat die video geneem het nie opgespoor kan word nie.

Indien dié persoon wel opgespoor word, sal die saak hervat, sê Mojapelo.

Die Makhado-munisipaliteit sê sy dissiplinêre ondersoek teen Mamorobela is nog nie afgehandel nie.

“Sedert sy (in April) toegang tot raadsbedrywighede geweier is, is sy nog nie terugverwelkom nie,” sê Louis Bobodi, munisipale woordvoerder.

Donald Selamolela, woordvoerder van die ANC in Limpopo, het ook bevestig Mamorobela se voorlopige skorsing is nog nie opgehef nie.

Die jongste bewerings oor dronkbestuur sal ondersoek word die oomblik dat die polisieondersoek afgehandel is, sê Selamolela.

Brand SA, ’n bemarkingsvennootskap tussen die staat en die sakesektor, het die week bevestig Mamorobela se skorsing as trusteelid geld steeds hangende ’n interne ondersoek.

Mamorobela se foon is sedert Maandag af en sy kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Tebogo Mamorobela (39) Foto: Facebook
Tebogo Mamorobela het volgens die Makhado-munisipaliteit se Facebook-blad ook as die waarnemende burgemeester opgetree. Foto: Facebook
Die Ford-dubbelkajuitbakkie wat Tebogo Mamorobela bestuur het toe sy Sondag deur ’n muur gebars het. Foto: Verskaf
Die Ford-dubbelkajuitbakkie het deur ’n muur gebars. Foto: Verskaf

Meer oor:  Tebogo Mamorobela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.