Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Antwoorde geëis nadat seun in Bloem doodgeskiet is

Hy was net ’n onskuldige seun wat onnodig doodgeskiet is.

Die familie van Jevanno Lian Siegel (14), ’n leerling aan die Laerskool Heide in Heidedal wat in die chaotiese onluste Maandag in Dr. Belcherweg doodgeskiet is, sê die Vrystaatse regering skuld hulle antwoorde oor sy dood.

Jevanno, of Soso, soos almal hom geken het, was ’n skrander kind wat graag fietse opgebou en baie goed geswem het.

Johannes Pieterse wys hier waar sy seun, Jevanno Lian Siegel (14), in die maag getref is toe hy Maandag in Dr. Belcherweg, Bloemfontein, geskiet is. Toe hy by sy seun kom, was hy reeds dood. Foto: Mlungisi Louw

Johannes Pieterse, sy pa, sê hy sal graag met die man wil praat wat sy seun doodgeskiet het. Hy veroordeel hom nie, want dalk is hy self ’n pa of oupa van ’n seun en weet hy hoe dit voel om ’n kind te verloor.

Nicolette Neels, ’n niggie, sê hulle en Jevanno het nie die optog deur die groep teen korrupsie in Mangaung gesteun nie. Die groep wil die stad onregeerbaar maak uit protes teen korrupsie in die Mangaung-metro.

Jevanno was by sy ma, Roseline Siegel, se huis naby aan Dr. Belcherweg toe hy die rumoer gehoor en soontoe gehardloop het.

“Hy het gisteroggend net opgestaan en agter die geraas aangehardloop. Hy het net tee gedrink en agter die geraas aangehardloop en nie weer teruggekom nie,” het sy by sy pa se huis gesê.

Die familie van Jevanno Lian Siegel (14), wat Maandag doodgeskiet is in die chaotiese opstand teen korrupsie, praat hier oor hul verlies en pyn. Van links is Nicolette Neels, 'n niggie, Krissie Mokgadi, 'n tannie, en Johannes Pieterse, sy pa. Die familie eis van die Vrystaatse regering antwoorde oor die gebeure. Foto: Mlungisi Louw

Pieterse sê die bure se dogter het na hulle toe gehardloop en gesê sy seun is geskiet.

“Ek het nie eens verder geluister nie. Ek het soontoe gehardloop, maar hy was klaar oorlede. Hy is in die maag geskiet,” sê hy.

“Ek weet self nie hoe ek gevoel het nie. Ek weet nou nog nie hoe voel ek nie. Dit is baie onnodig. Daardie ou kon mos vir die voete gemik het. As jy bó skiet, sal jy mos ’n mens doodmaak.”

Neels sê as daar met rubberkoeëls geskiet is, hoekom het die veiligheidswag skerp ammunisie gehad?

Mense van die nedersetting Gatvol in Heidedal, Bloemfontein, marsjeer Dinsdag teen swak dienslewering. Dit het teen die agtergrond van die groter onluste teen korrupsie in die Mangaung-metro afgespeel. Die polisie het die groep in hul spore gestuit en gedwing om uitmekaar te gaan. Foto: Mlungisi Louw
Gatvol vir die riool. Mense van die Gatvol-nedersetting in Heidedal, Bloemfontein, dra hier hul banier ten tyde van 'n optog teen dienslewering Dinsdag oor 'n stroom riool in Heidedal. Hulle sê hulle eis al agt jaar lank dat die woonbuurt geskuif word, maar dit val op dowe ore. Foto: Mlungisi Louw

“Hoe regverdig hy die feit dat hy met skerp ammunisie op ’n groep mense geskiet het?”

Krissie Mokgadi, ’n tante, sê Jevanno se dood is vir almal pynlik. Die familie eis antwoorde van die Vrystaatse regering.

“Ons kom hou nou begrafnis en dan? Wat daarna? Die Pieterse- en Siegel-families wil weet wat gebeur het. Daardie kind het ’n toekoms voor hom gehad. Hy het bicycles opgebou. Hy was ’n baie bedrywige kind.”

Die familie stem saam hy kon eendag ’n ingenieur geword het, maar “hy is nou onnodig as omstander in ’n optog doodgeskiet”.

Meer oor:  Jevanno Lian Siegel  |  Bloemfontein  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.