Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Apiesrivier, dam gefynkam vir tekens van oud-Koevoetlid

Verskeie polisie-eenhede en private ondersoekers, onder wie ’n voormalige lid van polisie-intelligensie, het Woensdag die Apiesrivier en die Bon Accord-dam in die noorde van Pretoria “sentimeter vir sentimeter” vir tekens van die vermiste oud-Koevoetlid Chris Barnard gefynkam.

Polisieduikers en ’n snuffelhond keer terug na die oewer nadat hulle die Bon Accord-dam in Pretoria gefynkam het.Foto: Deaan Vivier
Chris BarnardFoto:
Lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid soek in die digbegroeide oewer van die Apiesrivier.Foto: Skermgreep/Verskaf

Honde van die soek-en-reddingseenheid, polisieduikers en lede van die polisie se lugvleuel het hul soektog begin by die laaste plek waar sy selfoonsein in Pretoria opgevang is toe hy op 7 Desember vermis geraak en vermoedelik vermoor is.

Meer as 90 mense het Sondag die hele dag lank die stuk veld naby die Annlin-woonbuurt deursoek. Daar is besluit om die soektog na die rivier in die omgewing uit te brei toe niks teen sononder gekry is nie.

Woensdag was die polisiehelikopter nie net ’n alsiende oog in die lug nie, maar dit het ook die digte riete met die windkrag van sy skroef oopgedwing om te kyk of iets daarin versteek is.

Daarna het die soektog in die rivier af tot by die Bon Accord-dam, waarin die Apiesrivier uitmond, beweeg.

Hier het polisieduikers per boot en met ’n snuffelhond die dam deurkruis, terwyl familielede op die oewer gewag het.

Intussen het Barnard se gewese vrou ook die private ondersoeker Mike Bolhuis aangestel om met die soektog te help.

Bolhuis sê hy het ’n gespesialiseerde span vir sulke tipe ondersoeke wat saam met die polisie sal werk.

’n Polisiehelikopter vlieg oor die Bon Accord-dam op soek na enige teken van Chris Barnard.Foto: Skermgreep/Verskaf
Ook die polisie se snuffelhonde en soek-en-reddingseenheid help om na Chris Barnard te soek. Foto: Verskaf

“Ons opdrag is om te bepaal of Chris Barnard nog lewe of dood is – en om hom of sy lyk te kry,” het hy bygevoeg.

Barnard (54), wat vir ’n Amerikaanse veiligheidsmaatskappy in Irak werk, het op 1 Desember vir ’n kort vakansie na Suid-Afrika teruggekeer en in sy suster-hulle se huis in Annlin tuisgegaan.

Hy het ’n paar dae later ’n vriendin, wat hy op Facebook ontmoet het, in Vanderbijlpark gaan haal om te kom kuier.

Kort daarna het sy familie, wat in daardie stadium met vakansie was, “vreemde” boodskappe en versoeke van sy selfoonnommer ontvang. Met hul terugkeer was die huis leeggesteel en Barnard was weg.

Ná ondersoekwerk deur die familielede en die Sinoville-polisie is Corné de Beer (33) van Sasolburg, Richardt “Jagter” Botha (35) van Vanderbijlpark en Wayne van der Walt (35) van Vereeniging tussen 24 en 30 Desember in hegtenis geneem.

Barnard se foon, voertuig, bankbesonderhede en sy suster se gesteelde huisware is glo in hul besit gevind.

Die drie het reeds in die landdroshof in Pretoria-Noord op aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal te pleeg, sowel as van die diefstal van Barnard se voertuig tussen 7 en 23 Desember verskyn.

Barnard se familie het vroeër reeds erken dat hulle die ergste vrees, veral nadat die polisie en die staat ’n aanklag van moord by die klagstaat gevoeg het.

* Mense met inligting kan sers. Ferreira by 071 675 7373, of Bolhuis se ondersoekers en voormalige kolonels in die polisie, Vince Harris by 082 673 1830 of Luke Enslin by 082 222 5821 bel.

Meer oor:  Chris Barnard  |  Pretoria  |  Apiesrivier  |  Bon Accord-Dam  |  Vermis  |  Oud-Koevoetlid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.