Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Arrestasies ná dagga op Gansbaai-plaas gevind is
Peter Huyser se plaas Pearl Heights wat tussen Gansbaai en Pearly Beach geleë is.

Vyf verdagtes sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Hermanus verskyn nadat die polisie verlede week ’n hidroponiese daggalaboratorium op ’n plaas naby Gansbaai ontdek het.

Volgens inligting het die polisieklopjag op die plaas glo ’n massiewe daggavonds opgelewer.

Lt.kol Andrè Traut het gesê die verdagtes is op die plaas aangekeer. Hul ouderdomme is tussen 20 en 25.

“Die verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van die onwettige besit van dagga. Daar is beslag gelê op daggaplante en toerusting wat gebruik is om dagga te verwerk. Die omstandighede word ondersoek en die verdagtes sal in Hermanus in die landdroshof verskyn.”

Netwerk24 het Peter Huyser, die eienaar van die plaas Pearl Heights, kort ná die klopjag in Spanje opgespoor.

Huyser is briesend oor die inhegtenisnemings. Hy woon sedert 2010 in Gansbaai waar hy verskeie ondernemings besit. Hy sê hy is passievol oor dagga en die dagga waarop daar beslag gelê is, was syne.

Ek het baie van my tyd belê om dagga te plant en te bestudeer. Ek het nog nooit dagga verkoop nie en is nie ’n misdadiger nie.
Peter Huyser
Peter Huyser, eienaar van die plaas Pearl Heights tussen Gansbaai en Pearly Beach.

“Ek het baie van my tyd belê om dagga te plant en te bestudeer. Ek het nog nooit dagga verkoop nie en is nie ’n misdadiger nie. Alles wat ek doen, is wettig.”

Oor die klopjag by sy huis het Huyser gesê: “Al die dagga op my plaas word vir navorsingsdoeleindes en vir persoonlike gebruik gekweek.”

Huyser sê hy is ook die eienaar van ’n daggawinkel, Canna Cabana, in Somerset-Wes.

“Ek doen wat ek doen om ander mense te help en in te lig oor die genesende kragte van dagga.”

Huyser sê hy het verlede week ’n oproep ontvang van ’n vriend wat hom ingelig het dat die polisie op sy plaas is.

“Hulle het my werkers aangekeer. Ek het ’n ander werknemer, die opsigter van al my besighede, gevra om te gaan kyk wat aangaan en toe hy daar kom, is hy ook vir ondervraging aangehou.”

Volgens Huyser is hy amper nooit in Gansbaai nie en reis hy meestal in die buiteland rond.

“Ek is nou al ’n paar maande in Spanje op vakansie. Ek vervaardig wel geïsoleerde kannabidiol (CBD), wat ek deur my daggawinkel verkoop. Alles wat ek het, is wettig. Ek verkoop nie dagga aan die publiek nie en is nie ’n misdadiger nie. Ek is ’n daggafynproewer. Ek rook ontsettend baie dagga en ek het ongeveer 20 000 verskillende daggasade wat nou blykbaar alles tot niet is,” sê hy.

Volgens hom het die polisie alles wat hy probeer opbou het, in ’n oogwink vernietig.

“Ons was besig om ’n fasiliteit volgens mediese vereistes te bou vir navorsing en om produkte te maak wat mense kan help. Die dagga het nog nooit niks gefinansier nie, so daar is nie ’n misdaad betrokke nie,” sê hy.

Huyser sê hy die nodige dokumente vir sy plante wat hy kweek en kan hy bewys dat dit CBD-plante is.

Huyser sê hy die nodige dokumente vir sy plante wat hy kweek en hy kan bewys dit is CBD-plante. “Ek het sertifikate van egtheid vir al my CBD. Die polisie het ’n groot fout begaan.”

Hy sê die polisie versuim ook om te noem dat hulle by nog drie van sy eiendomme toegeslaan het, sy werknemers geïntimideer het en selfs op soek is na die bestuurders wat sy koerierdiens bedryf.

“Al die ouens wat vir my werk, word steeds aangehou vir ondervraging en hulle het op al die rekenaars sonder enige geldige rede by my ander besigheid, insluitend Solyx Films, beslag gelê."

Huyser wil die saak tot die bitter einde in die hof beveg.

“Hulle het geen bewyse gevind wat aandui dat ek dagga verkoop nie. Alles was binne die perke van die wet gedoen. Die wet bepaal nie hoeveel plante ek mag of kan hê nie of hoeveel dagga ek kan besit nie. Maar as ek nie verkoop nie, oortree ek nie die wet nie,” sê hy.

Hy voeg by dat selfs sy regsverteenwoordiger verbied is om toegang tot die plaas te kry terwyl die polisie besig was.

Meer oor:  Dwelms  |  Arrestasies  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.