Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
As-diefstal: Verslaafdes ‘sal énigiets rook’
Die oopgebreekte nissies by die Memorium-begraafplaas in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Al het dooies se as geen aktiewe bestanddeel nie, sal verslaafdes dit steeds rook om “op die een of ander manier gerook te raak,” sê Gert Kruger, direkteur van Aurora.

Hy het gereageer op gerugte dat dwelmverslaafdes die as van afgestorwenes steel en dit glo met hul dwelms meng om te rook.

Dit het pas weer voorgekom toe inbrekers by ’n huis in Pellissier, Bloemfontein, die as van die huiseienaars se seun en troeteldiere gesteel het.

Ná die inbraak verlede Donderdagoggend het Lucinda Annandale, suster van Jonty Annandale, wie se as gesteel is, gesê verskeie mense het vir hulle gesê dwelmverslaafdes meng die as met hul dwelms om dit te rook. Sy het dit ook op die internet gelees.

Ná die inbraak het hulle die leë kissies waarin die as was in hul erf gekry. Annandale sê hulle het intussen die veiligheid by hul huis opgeskerp. Sy sê dít maak haar woedend.

“Ons moet nou in ’n tronk bly omdat ander mense nie ons veiligheid kan respekteer nie.”

Jonty is op 27 Julie 2014, ’n dag voor sy mondigwording, dood weens komplikasies verwant aan ’n griepvirus.

Sy sê hulle het sedert die inbraak nog niks van die polisie gehoor nie.

Kruger het gesê hoewel hy nog nie gehoor het van dwelmgebruikers wat dooies se as met ander bestanddele meng en dit dan rook nie, verbaas dit hom nie.

“Een van die probleme met dwelmgebruikers is dat hulle enigiets onder die son sal gebruik om gerook te word en dan het dit nie juis ’n uitwerking op hulle nie.”

Jonty Annandale, wie se as verlede week uit ’n huis in Pellissier, Bloemfontein, gesteel is.

Shelton Phillips (29), ’n voormalige dwelmgebruiker wat 12 jaar aan tik en verskeie ander dwelms verslaaf was, sê hoewel hy al desperaat was, sou hy dit nooit oorweeg het om dooies se as met sy dwelms te meng en dit te rook nie.

“Nyaope, ’n betreklik nuwe dwelm, maak wel die mense mal, so dit kan hulle dalk daartoe dryf.”

Andrus Strauss van die School of Fire-bediening wat dwelmverslaafdes rehabiliteer, sê indien die as opsetlik gerook word, kan dit deel van ’n satanistiese ritueel wees.

Fikiswa Matoti, ’n woordvoerder van die polisie, sê niemand is nog in verband met die inbraak in hegtenis geneem nie.

Die vermeende rowers het Donderdagoggend vroeg die drie kissies as, ’n televisiestel, ’n onbekende bedrag geld, ’n selfoon en ’n duvet gesteel.

“Ons kan nie die kwessie van gesteelde as isoleer van al die ander gesteelde items nie. Die polisie kan nie bevestig of die verdagtes net agter die as aan was nie.”

Die ondersoek duur voort.

*Nisse waarin die kissies met as geplaas word, word al jare in Bloemfontein geteiken. Hoewel ’n heining nou rondom die gedenkmuur in die Memorium-begraafplaas aangebring is, word die nisse steeds oopgebreek om die as te steel.

https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/vandalisme-by-gedenkmuur-skok-20170202

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.