Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
As ‘seehonne’ en stropers bots . . .

Die Overbergse vissersgemeenskap is ontstoke nadat ’n bootsman dood en talle beseer is toe ’n boot en ’n staatsvaartuig mekaar tref, berig Julian Jansen.

Doer ver, by Dyereiland, is die duikers deur die inspekteurs omgery Foto: Edrea du Toit

Dit gons in die vissersgemeenskap van die Overberg oor die dood van een vermeende stroper en die besering van talle ander in ’n skermutseling op die see by Gansbaai.

Hul rubberboot met 21 bemanningslede het glo tromp-op gebots met ’n vaartuig van die departement van landbou, bosbou en visserye.

Dié voorval was naby Dyereiland, ’n seegebied berug vir sy grootwithaaie.

Die liggaam van ’n bootsman op die vermeende stropers se boot, Morty Booysen (36), het Sondag op Soetfontein naby Pearly Beach sowat 20 km buite Gansbaai uitgespoel.

Sy lyk en van die ander beseerdes het glo talle snymerke en volgens die duikers is dit veroorsaak deur die enjinskroewe van seevisserye se vaartuig.

Hulle sê ons duikgeld gaan vir drugs en wapens, maar abalone sit kos op die tafel, ons kry nie viskwotas nie.

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek begin.

Die departement van landbou, bosbou en vissery sê hulle het verlede Saterdagaand op ’n boot vol perlemoen beslag gelê. Die insittendes het tydens die jaagtog in die see geduik. Daar is op 2 400 stuks perlemoen, 33 suurstoftenks en ander duiktoerusting beslag gelê.

Die stropers is hieroor dikbek en het op WhatsApp-groepe luid uitgevaar oor hoe die “boere” (polisie) en “seehonne” (mariene inspekteurs) hulle gereeld sou aanrand, maar veral oor hoe seevisserye probeer verdoesel wat volgens hulle verlede week gebeur het.

Rapport is die afgelope Vrydag deur ’n groot rolspeler in die Overbergse stropersbedryf na van die slagoffers geneem. Hy het gevra ons moet hom Ronnie noem.

“Die boere wil ons in ons moer maak. Hulle skiet nou op ons bote, skiet die enjins uit . . . Ons is nie ’n gevaar nie, dis net die spesies wat in gevaar is,” sê Ronnie.

Ronnie is pal op sy selfoon. Die luidrugtige WhatsApp-stemnotas drup van ontsteltenis, maar ook van haat en wraakgedagtes.

Morty Booysen en sy vrou, Beredine.

Jy hoor name van individue op visserye se vaartuie: Kosie Gun uit die ou regime, Skiewetand en ene Neil. Die gespreksgenote is van Bettiesbaai, Kleinmond, Hawston, Gansbaai en Strandfontein op die Kaapse Vlakte.

By Booysen se huis staan sy weduwee, Beredine, bewoë by ’n bos verlepte blomme, nog van Moedersdag. Hulle het sewe kinders saam. Daar is nie geld vir ’n begrafnis nie, die manne moet help, prewel sy. Haar dogtertjie het baie vrae in haar grou ogies.

Kerneels (Mannetjies) Chaka (44), die kaptein van die stropersboot, is in die hospitaal. Rapport bekyk selfoonfoto’s van die wonde aan sy bene en linkerarm.

“Dis die bootskroewe. Hy het amper sy arm en voet verloor!” sê Ronnie langsaan. Chaka is in 2011 saam met 21 vermeende stropers, waaronder die berugte baasbrein Frank Barends, van 51 misdade aangekla. Die groep sou glo ’n nasionale sindikaat van R2 miljard in opdrag van ’n Chinese burger bedryf het.

“Hulle sê ons duikgeld gaan vir drugs en wapens, maar abalone sit kos op die tafel, ons kry nie viskwotas nie,” sê Ronnie. Hy spoeg weer vuur op WhatsApp.

Seevisserye se operasie Saterdag hét die stropers duidelik baie seergemaak.

Beredine treur oor Morty. Foto: Edrea du Toit

By Pearly Beach se Eluxolweni-buurt, die tuiste van talle stropers, is ’n oorlewende stom. Hy is bang en getraumatiseerd, sê ’n tolk verskonend. Hy gaan wys dan vanaf ’n sandduin waar die seeslag doer gebeur het. Daar links het Morty Goue Tand uitgespoel, die ander het uitgeswem, meer as 8 km ver, sê hy.

Op pad na Chaka se huis in Blompark wys Ronnie die vliegveld van waar Seevisserye hul hommeltuig en klein vliegtuigie vir patrollies lanseer.

“Op dié pad, tussen Die Dam en

Pearly Beach, maak die boere toe, dan keer hulle die duikers hier vas. Hier is baie

Pearly Beach, maak die boere toe, dan keer hulle die duikers hier vas. Hier is baie escape routes tussen die bossies.

“Maar as hulle jou vang, moer hulle jou oë toe in die selle,” sê Ronnie bitter.

“My huis en my bakkie kom uit hierdie see,” sê Ronnie, later heel ingenome. Hy waai met sy hand oor Pearly Beach se waters. “Hier’s nog baie perlies. Sopbakke. Ons gaan nog lank hier wees.”

By Gansbaai se polisiekantoor sien jy twee afgeblaasde rubberbote op die perseel lê.

Meer oor:  Overberg  |  Perlemoen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.