Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Asbes-oudit: Senior politici ook ondersoek

Senior politici word ook ondersoek in verband met die beweerde korrupte asbes-oudit van die Vrystaatse regering en getuienis word ingewag voordat ’n besluit geneem word of hulle ook in verband met die projek van R255 miljoen aangekeer gaan word, word betroubaar verneem.

Dié inligting het na vore gekom op die vooraand van die verskyning van sewe amptenare en sakemanne, onder wie die uitgeskopte uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, Olly Mlamleli, en die miljoener-sakeman Edwin Sodi.

In nog ’n wending in die opsienbare inhegtenisnemings deur die Valke en die spesiale ondersoekeenheid is nog ’n verdagte, Thabane Zulu, voormalige direkteur-generaal van die nasionale departement van menslike nedersettings, in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.

Zulu, Nthimotse Mokhesi, hoof van die Vrystaatse departement van menslike nedersettings, Sodi, Mlamleli, Mahlomola Matlakala, verkrygingshoof van die Vrystaatse departement van menslike nedersettings, Sello Radebe, eienaar van die maatskappy Mastertrade 232, en Abel Manyeki, direkteur van Ori Group, verskyn Vrydag in die streekhof in die Rosestad op verskeie aanklagte van bedrog, tientalle aanklagte van geldwassery, asook korrupsie-aanklagte.

Na verneem word, is Blackhead Consulting, wat aan Sodi behoort, Diamond Hill Trading 7 van Ignatius Mpambani wat in April 2018 in Sandton doodgeskiet is, asook Mastertrade 232 Edms. Bpk. en Ori Group Edms. Bpk. ook op die klagstaat gevoeg as beskuldigdes.

Dit blyk dat Blackhead ’n kontrak met die Gautengse regering aangegaan het om huise met asbesdakke teen R650 per huis te tel.

Die sewe se verskyning spruit uit die miljoenrand-asbesdak-oudit van die Vrystaatse regering wat volgens die staat op “bedrieglike en korrupte wyse” tussen 2014 en 2016 uitgevoer is.

Al die verdagtes staan onder meer op agt aanklagte van bedrog en 44 aanklagte van geldwassery tereg.

Daarmee saam word Sodi, Mokhesi en Zulu ook deur aanklagte van korrupsie in die gesig gestaar.

Mlamleli in haar hoedanigheid as lid van die provinsiale regering, asook lid van die uitvoerende raad van die provinsie, word daarvan aangekla dat sy die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oortree het.

Die staat sal glo aanvoer dat die Vrystaatse departement van menslike nedersettings enkelbedrae van tot R77,5 miljoen (4 Augustus 2016) aan Blackhead Consulting betaal het.

Van die ander enkelbedrae wat glo tussen 2014 en 2016 betaal is, is onder meer R36,5 miljoen (11 Augustus 2015), R31 miljoen (15 Januarie 2015) en R25 miljoen (26 Maart 2015).

Dit blyk dat Blackhead ’n kontrak met die Gautengse regering aangegaan het om huise met asbesdakke teen R650 per huis te tel.

In Mei 2014 het Sodi en Blackhead met Diamond Hill Trading 7 ’n kontrak gesluit om die huise teen R1 350 per huis te tel. Die staat beweer verder dat hulle R32 760 per huis gevra het om die asbesdakke te vervang.

Glo op aandrang van Mokhesi het die Vrystaatse departement van menslike nedersettings in Julie 2014 aansoek gedoen om ook by die projek ingesluit te word.

Die aansoek is in Augustus 2014 goedgekeur en ’n ooreenkoms van R255 miljoen is tussen Sodi, Blackhead en Diamond Hill Trading aangegaan.

Die departement het toe glo R51 miljoen vooruit aan Sodi en Blackhead/Diamond Hill Trading 7 betaal en daarna is gereelde betalings gemaak sonder dat die dakke vervang is.

Meer oor:  Thabane Zulu  |  Edwin Sodi  |  Staatskaping  |  Asbesdak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.