Drie senior staatsamptenare en drie sakemanne is Woensdag weens beweerde korrupsie deur die Valke vasgetrek.
Die amptenare – onder andere Edwin Sodi, ’n sakeman, Olly Mlamleli, die uitgestemde uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro en voormalige Vrystaatse LUR, en Nthimotse Mokhesi, hoof van die Vrystaatse departement van menslike nedersettings – is in hegtenis geneem in ’n blitzkrieg deur die Valke wat oor drie provinsies gestrek het.
Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het Woensdagmiddag gesê die ses sal agter tralies bly totdat hulle Vrydag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.
Sodi, wat net Dinsdag sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping klaargemaak het, is by sy prokureur se kantoor in Johannesburg in hegtenis geneem.

Lede van die Valke lei die sakeman Edwin Sodi uit sy prokureur se kantoor uit nadat hy Woensdag hier in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf
Die Zondo-kommissie het onder meer gehoor dat hy meer as R1 miljard oor ’n tydperk van tien jaar vir behuisingsprojekte betaal is, en self glo miljoene rande betaal het aan “spesiale vriende” wat nou ministers en adjunkministers in die kabinet is.
Mlamleli is omstreeks 10:00 by haar ampswoning in die Rosestad in hegtenis geneem.
Mokhesi was glo aan die bestuur toe hy hoor dat hy ook gesoek word. Hy het homself toe aan die ondersoekers gaan oorgee.
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê naas die ses inhegtenisnemings, waartoe ook vyf maatskappye gevoeg is, is daar nog ’n uitstaande lasbrief vir die inhegtenisneming van ’n verdagte in KwaZulu-Natal.
Luidens inligting is die persoon ’n voormalige nasionale staatsamptenaar.
Die beskuldigdes word sover deur 60 aanklagte in die gesig gestaar – onder meer korrupsie, bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur wat verband hou met die 2014-asbesdak-ouditprojek in die Vrystaat.
Hoewel van die beskuldigdes se name al in getuienis voor die Zondo-kommissie genoem is, sê Mulaudzi die inhegtenisnemings spruit uit ’n gesamentlike ondersoek deur die Valke se Vrystaatse ondersoekeenheid na ernstige korrupsie, die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en die NVG.
Die ondersoek handel oor die R255 miljoen-asbesdak-kontrak van die Vrystaatse regering.
Mulaudzi sê die bewerings teen die verdagtes spruit uit die toekenning van ’n kontrak ná ’n verkrygingsproses wat op “bedrieglike en korrupte wyse” gedoen is.
“Daarby het sekere amptenare voordele van die gekontrakteerde maatskappy en/of ’n individu ontvang, wat tot verskeie klagtes van korrupsie gelei het.

Geboei en met sy kop toegegooi, word Edwin Sodi na die wagtende Valke-voertuig gelei. Foto: Verskaf.
“Die kontrak was bedoel om asbesdakke in die Vrystaat te identifiseer en te vervang, maar die nodige omsigtigheidsproses is nie gevolg nie.
“Daar word beweer dat die (Vrystaatse) provinsiale departement (van menslike nedersettings) die indruk geskep het dat hy deelgeneem het aan ’n kontrak wat deur die Gautengse departement van menslike nedersettings gesluit is,” sê die Valke.
Dit blyk egter dat die dienste wat kragtens die twee kontrakte gelewer moes word nie dieselfde was nie en dat die prys van die Vrystaatse kontrak hoër was, wat ’n oortreding van tesourie-regulasies is.
“In die tydperk het die (Vrystaatse) departement ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en verkwistende uitgawes ter waarde van meer as R255 miljoen aangegaan.”
Ngwema sê nog aanklagte kan by die huidige 60 gevoeg word.
“Die ondersoek gaan voort en verdere inhegtenisnemings is nie uitgesluit nie,” sê hy.
Hy wou hom egter nie uitspreek oor wanneer dit kan gebeur en of dit ander hoëlui kan insluit nie.