Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Asbesdakke: Valke slaan toe
Ace Magashule

Drie senior regeringsamptenare en drie sakemanne is Woensdag in ’n deurbraak in die stryd teen staatskaping en korrupsie deur die Valke vasgetrek.

Die verdagtes, wat die sakeman Edwin Sodi, Olly Mlamleli, uitgestemde uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro in Bloemfontein en voormalige Vrystaatse LUR, en Nthimo­tse Mokhesi, die Vrystaatse hoof van die departement van menslike nedersettings, insluit, is gearresteer in ’n blitzkrieg deur die Valke wat oor drie provinsies gestrek het.

Mlamleli is in hegtenis geneem op die tydstip wat sy ’n raadsvergadering van die metro moes bywoon waar haar ondersteuners haar in haar amp wou herstel.

Uiteindelik was daar in elk geval nie ’n kworum nie en moes die vergadering uitgestel word.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het Woensdagmiddag gesê die ses sal agter tralies bly totdat hulle môre in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

Sodi, wat net Dinsdag nog sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping klaargemaak het, is by sy prokureur se kantoor in Johannesburg in hegtenis geneem.

Die Zondo-kommissie het gehoor dat hy oor ’n tydperk van tien jaar meer as R1 miljard vir behuisingsprojekte betaal is en self na bewering miljoene rande betaal het aan “spesiale vriende” wat nou ministers en adjunkministers is.

Mlamleli is omstreeks 10:00 by haar ampswoning in die Rosestad in hegtenis geneem.

Mokhesi was glo aan die bestuur toe hy hoor dat hy ook gesoek word. Hy het homself toe aan die ondersoekers gaan oorgee.

Hy is met sy kop onder ’n baadjie verberg uit die gebou van die Toerismesentrum in Bloemfontein na die voertuig van die Valke begelei.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê naas die ses inhegtenisnemings is daar nog ’n uitstaande lasbrief vir die inhegtenisneming van ’n verdagte in KwaZulu-Natal.

Foto:

Luidens inligting is die persoon ’n voormalige nasionale regeringsamptenaar.

Vyf maatskappye word ook betrek.

Die beskuldigdes word in dié stadium deur 60 aanklagte in die gesig gestaar van onder meer korrupsie, bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) wat verband hou met die asbesdakprojek in 2014.

Hoewel van die beskuldigdes se name al voor die Zondo-kommissie genoem is, sê Mulaudzi die inhegtenisnemings spruit uit ’n gesamentlike ondersoek deur die Valke se Vrystaatse ondersoekeenheid na ernstige korrupsie, die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en die NVG.

Mulaudzi sê die bewerings teen die verdagtes spruit uit ’n kontrak wat toegeken is ná ’n verkrygingsproses wat op ’n “bedrieglike en korrupte wyse” gedoen is. “Daarby het sekere amptenare voordele van die gekontrakteerde maatskappy en/of ’n individu ontvang wat gelei het tot verskeie klagtes van korrupsie.

“Die kontrak was bedoel om asbesdakke in die Vrystaat te identifiseer en te vervang, maar die nodige omsigtigheidsproses is nie gevolg nie.

Foto:
Edwin Sodi (links) word in Johannesburg in hegtenis geneem.

“Daar word beweer dat die (Vrystaatse) departement (van menslike nedersettings) die indruk geskep het dat hulle deelgeneem het aan ’n kontrak wat deur die Gautengse departement van menslike nedersettings gesluit is,” het die Valke gesê.

Dit blyk egter dat die dienste in die twee kontrakte nie dieselfde was nie, en die prys hoër, wat ’n oortreding van tesourie-regulasies is.

“In die tydperk het die (Vrystaatse) departement ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en verkwistende uitgawes ter waarde van meer as R255 miljoen aangegaan.”

Ngwema het bygevoeg dat nog aanklagte by die huidige 60 gevoeg kan word. “Die ondersoek duur voort en verdere inhegtenisnemings is ook nie uitgesluit nie,” het hy gesê.

Meer oor:  Staatskaping  |  Asbesdakke  |  Olly Mlamleli  |  Valke  |  Edwin Sodi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.