Paramedici wat Maandagoggend met ’n asmalyer na ’n hospitaal in Port Elizabeth onderweg was, is in ’n hinderlaag met messe beroof.
Die paramedici van die Nelson Mandelabaai-metro se ambulansdiens is omstreeks 03:00 in Joe Slovo beroof terwyl hulle met hul pasiënt na die Dora Nginza-hospitaal in Zwide op pad was.
Sizwe Kupelo, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Oos-Kaap, sê die ambulans was op pad na die hospitaal toe ’n Golf naby die Chatty- en R75-padkruising voor die ambulans inry.
Die motorbestuurder het ’n U-draai gemaak en in die rigting van die aankomende ambulans gery en sy ligte geflikker om die ambulanspersoneel te probeer waarsku, maar hulle het geen onraad vermoed nie.
By die kruising moes die ambulanspersoneel stilhou omdat die pad met klippe versper was. Drie mans het toe uit die donker hul verskyning gemaak.
“Die booswigte het die ruit aan die bestuurderskant van die ambulans stukkend geslaan. Die ambulansbestuurder se gewrig is in die proses beseer.”
Die twee ambulanspersoneellede en die pasiënt is van hul persoonlike besittings, insluitend selfone, beroof.
Die ambulans se linkerwiel is in die proses beskadig.
Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê die vermeende rowers was met messe gewapen. Volgens hom het een van die rowers ’n ambulansman met ’n pyp oor die kop probeer slaan.
Die ambulans se linkerwiel is in die proses beskadig.
Die ambulanspersoneel se hoof het die toneel aangedoen om seker te maak hulle en die pasiënt word veilig na die hospitaal gebring.
Volgens Kupelo is die paramedici en pasiënt getraumatiseer en het die gesondheidsdepartement berading vir hulle aangebied.
Die aanval was op dieselfde plek waar daar vroeër skote op paramedici van ’n private maatskappy afgevuur is. Daar is op die paramedici geskiet terwyl hulle inderhaas ’n U-draai gemaak het om te probeer vlug.
Kupelo sê die departement betreur die aanval en moedig die gemeenskap aan om seker te maak paramedici is veilig wanneer hulle menselewens probeer red.
“Wanneer booswigte sekere gebiede ontoeganklik maak vir ambulanse gaan dit diegene wat mediese hulp nodig het daarvan ontneem, wat kan lei tot sterftes.
“Die soort misdrywe moet die nekslag toegedien word. Ons glo dat die polisie voorkeur aan die ondersoek sal gee en sal seker maak dat die skuldiges agter tralies beland,” sê Kupelo.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.