Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
B97-roete van Maandag gesluit weens taxigeweld

Die B97-roete tussen Mbekweni, buite die Paarl, tot in Bellville is vanaf Maandag effektief vir twee maande gesluit.

Dit is die roete waaroor die taxiverenigings Cata en Codeta die afgelope paar maande baklei.

Sedert Januarie vanjaar is meer as 81 mense in taxigeweld in Kaapstad en dele van die Boland vermoor. Meer as 54 mense is ook gewond.

Erge taxigeweld het weer op 5 Julie tussen die twee taxiverenigings uitgebreek. Cata het geweier dat lede van die Codeta-geaffilieerde Paarl Alliance Taxi Association dienste op die taxistaanplek in Mohajanestraat en by die Shoprite-sentrum in Mbekweni lewer.

Daylin Mitchell, LUR vir vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Daarna het die geweld na Bellville en na die onwettige taxistaanplek langs Bellrailstraat oorgespoel.

Daylin Mitchell, LUR vir vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap, het die besluit oor die sluiting van die roete Vrydag aangekondig.

Intussen het Mandla Hermanus van Cata gesê hulle is teleurgesteld dat die geskil nou tot op die punt gekom het waar die regering genoodsaak is om die roete te sluit.

“Dit beteken dat ons as die taxibedryf die mense in die steek gelaat het wat op ons staatmaak om hulle daagliks te vervoer.”

Hermanus het gesê hulle is egter toegewyd daaraan om ’n oplossing vir die dooiepunt in die onderhandelinge te vind.

Volgens hom gaan Cata hom nie tot die hof wend om die regering te stop nie, maar hy sal voortgaan om met Codeta te praat sodat daar ’n ooreenkoms bereik kan word en taxibedrywighede hervat kan word.

Mitchell het gesê dat hy op 9 Julie vanjaar ’n kennisgewing in die Staatskoerant laat publiseer het waarin hy sy voorneme bekend gemaak het om die roete in terme van afdeling 91 (2) van die Wet op Nasionale Landvervoer van 2009 te sluit. Die wet gee hom die mag om buitengewone maatreëls te tref indien dit nodig sou wees.

“Ek het al die openbare menings oorweeg wat ingedien is en ná konsultasie met die polisie, die premier en die nasionale minister van vervoer, glo ek dit is die regte besluit,” het Mitchell gesê.

Sowel Cata as Codeta glo dat hulle alleenreg tot die roete het.

Mitchell het gesê vele pogings om die twee verenigings te help om tot ’n vergelyk te kom, het op niks uitgeloop.

Ek het al die openbare menings oorweeg wat ingedien is en ná konsultasie met die polisie, die premier en die nasionale minister van vervoer, glo ek dit is die regte besluit.

Die sluiting beteken dat geen minibustaxi-diens vir die volgende twee maande vanaf Maandag by die Bellville-wisselaar vir openbare vervoer, die taxistaanplekke in Mbekweni en die Bellrail-staanplek bedrywig mag wees nie.

Mitchell het gesê ’n boete van R5 000 of gevangenisstraf van tot ses maande staar enige minibustaxibestuurder in die gesig wat hierdie kennisgewing verontagsaam of nie daaraan gehoor gee nie, sou hulle skuldig bevind word.

Hy het ook gesê dat Wes-Kaapse inwoners nie langer deur ’n handjievol misdadigers gevange gehou kan word wat die bestaan van wetsgehoorsame taxibestuurders en inwoners bedreig nie.

“Ek het ’n eed afgelê dat ek sal optree in die beste belang van ons mense en ek sal aanhou om dit te doen met elke beskikbare hulpmiddel.”

Mitchell het ook gesê dat die Wes-Kaapse regering voortgaan om met die polisie en ander rolspelers, insluitend die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die metropolisie, die polisie en verkeerspolisie, saam te werk om te verseker dat pendelaars beskerm word.

Ek sal ook oor die naweek ’n aankondiging doen oor vervoer vir mense in die gebiede wat geraak word.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en Fikile Mbalula, minister van vervoer, het ook bykomende ondersteuning van die weermag gevra om die polisie te ondersteun.

Hierdie bykomende ondersteuning word nou veral in gebiede ontplooi wat as brandpunte geïdentifiseer is.

“As gevolg van die sigbaarheid is daar geen verdere taxigeweld sedert Maandag aangemeld nie. Vrydagoggend het die Golden Arrow-busdiens ook 95% van sy busse op hul roetes gehad,” het Mitchell gesê.

Volgens hom sal sy departement voortgaan om ontmoetingsplekke en bemiddelaars beskikbaar te stel om die twee taxiverenigings te help om ’n oplossing te vind.

“Ek sal ook oor die naweek ’n aankondiging doen oor vervoer vir mense in die gebiede wat geraak word.”

Meer oor:  Daylin Mitchell  |  Bellville  |  Gesluit  |  Roete  |  Taxigeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.