Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Baasbrein’ agter Mihalik-sluipmoord bekend

Die sogenaamde baasbrein agter die moord Dinsdag op adv. Pete Mihalik (50) van Kaapstad is nog soek.

Die man is glo ’n taxibaas van Khayelitsha. Sy naam is aan Netwerk24 bekend.

Hy besit glo taxi’s wat op die Delft-roete op die Kaapse Vlakte diens doen. Die rede waarom hy vermeende huurmoordenaars sou gekry het om vir Mihalik dood te maak, is nog onbekend.

Bronne het Woensdag gesê die polisie ondersoek ook nog die moontlikheid dat Mihalik se dood miskien iets te doen het met die sogenaamde onderwêreld in Kaapstad aangesien hy sekere rolspelers verteenwoordig het.

“Daardie moontlikheid word nie misgekyk nie,” sê van die bronne.

Daar word glo ook na die moontlikheid gekyk dat die aanval op Mihalik verband hou met sy verskyning vir die beskuldigdes in die verhoor van Nkosithandile Cekasayo, ’n taxibestuurder, twee van sy broers en nog ’n man.

Hulle het die afgelope maand in die hooggeregshof in Kaapstad op aanklag van moord en drie aanklagte van poging tot moord verskyn.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle in Julie 2013 twee ander taxibestuurders, Zithulele Luthuli en Sikhumbule Silwana, in Nyanga doodgeskiet het.

Hulle het op dieselfde dag, 25 Julie 2013, glo ook vir Celani Twazi, Bongani Mququ en Thamsanqa Nkuqwana gewond. Hulle verskyn ook op aanklagte van onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Die saak sou vandag (Woensdag) voortgaan.

Die polisie het Dinsdag reeds twee mans in verband met Mihalik se dood “vir ondervraging” ingeneem.

Mihalik is Dinsdag kort ná 07:30 deur ’n onbekende man naby sy kinders se skool, Reddam House Atlantic Seaboard in Groenpunt, doodgeskiet. Hy is twee keer in die kop geskiet en het op die toneel gesterf.

Sy agtjarige seun wat op die voorste passasiersitplek gesit het, is gewond. Hy is volgens familie in ’n ernstige toestand in die hospitaal. Die koeëls wat deur sy pa getrek het, het hom in sy gesig getref. Een van die koeëls het Dinsdag nog in sy kakebeen vasgesit.

Die misdaadtoneel waar adv. Pete Mihalik Dinsdagoggend doodgeskiet is. Foto: Adrian de Kock

Mihalik is glo met ’n 9 mm-pistool met hardepunt-ammunisie geskiet.

’n Oudpolisieman met uitgebreide vuurwapenkennis, het Dinsdag gesê hardepunt-ammunisie dring deur alles. Dit word volgens die oudpolisieman gewoonlik net aan polisielede en weermaglede uitgereik.

Die man wat Dinsdag eerste in verband met die sluipmoord deur die polisie ondervra is, is kort ná 10:00 deur verkeerspolisiebeamptes naby Prestwichstraat, Groenpunt, aangekeer. Daar is aanvanklik berig dat die man buite Atlantis aangekeer is.

Adv. Pete Mihalik Foto: Adrian de Kock

“Die wit man moet geskiet word’

’n Ingeligte bron het Dinsdagaand egter die verloop van gebeure van die oomblik toe Mihalik geskiet is, totdat ’n tweede man aangekeer is, aan Netwerk24 geskets.

Volgens die bron het die voertuig waarin Mihalik se vermeende huurmoordenaars van die toneel in Thornhillstraat, gevlug het, oor ’n stopstraat naby die Gallo Hills-verkeersdepartement gery.

Dit het verkeersbeamptes se aandag getrek en hulle het die motor gestop. Die bestuurder het glo uitgeklim om met die verkeerspolisie te praat. Terwyl hulle glo besig was om ’n verkeersboete uit te skryf, het die man wat in die passasiersitplek was, glo in die bestuurdersitplek oorgeklim en weggejaag.

Nadat verkeersbeamptes besef het dat die motor ooreenstem met die motor wat van die moordtoneel af weggejaag het, het hulle die polisie laat weet dat hulle iemand aangekeer het wat moontlik iets met die moord te doen het.

Luidens die bron en twee ander onafhanklike bronne, het die man kort nadat speurders van die bende-eenheid hom begin ondervra het, glo aan hulle gesê dat hy van Umlazi is en dat hy Maandag vanuit KwaZulu-Natal in Kaapstad aangekom het.

Hy het ook gesê dat daar nog ’n man van KwaZulu-Natal saam met hom by die moord betrokke was, maar dat hy glo nie die man se naam ken nie. Hulle het glo ook nie saam in Kaapstad aangekom nie. Bronne kon nie sê hoe die mans in Kaapstad aangekom het nie.

Die man staan reeds in die landdroshof in Eshowe, KwaZulu-Natal saam met ses ander mense op aanklag van moord tereg. Die moord is in Junie vanjaar gepleeg.

Hy het glo aan die polisie gesê daar is toe hy in die Kaap aankom net aan hom gesê: “die wit man moet geskiet word.”

Geen redes is glo aan hom gegee nie. Hy wou glo ook nie aan die polisie sê wat hy of die tweede vermeende huurmoordenaar betaal is om die opdrag uit te voer nie.

Die tweede man, glo die man wat die sneller getrek het, is Dinsdag kort ná 16:30 deur speurders verbonde aan die nuutgestigte bende-eenheid by ’n bushalte in Bellville aangekeer. Die man, glo geklee in nuwe tekkies en klere, was glo op pad terug na KwaZulu-Natal.

Twee voertuie

Volgens inligting van die bronne is twee voertuie tydens die misdaad geoormerk. Die eerste motor is die silwer Volkswagen Polo met ’n Kaapse registrasienommer wat van die moordtoneel weggejaag het. Die voertuig is glo gehuur.

Die polisie het glo die sein van die voertuig se opsporingstelsel tot in een van Kaapstad se townships gevolg. Daar aangekom het lede van die taktiese reaksie-eenheid en speurders wat die moord ondersoek op die voertuig afgekom waar twee mans glo reeds besig was om dit te spuitverf.

Die motor was “liggies” gestamp.

Die mans het aan die polisie verduidelik dat hulle gevra is om die voertuig oor te spuitverf. Die polisie het daarna ’n selfoon van een van die verdagtes nagespoor. Dit het hulle na die bushalte in Bellville geneem waar hulle die tweede vermeende huurmoordenaar, die man wat glo die sneller getrek het, aangekeer het.

Dit is moontlik die wegkommotor. Foto: Kringtelevisiebeeldmateriaal

Die tweede voertuig wat hulle glo ook wou gebruik om mee te vlug is ’n silwer Renault Clio. Die voertuig het gekloonde registrasienommer van ’n identiese Renault Clio – dieselfde model – gehad. Die gekloonde registrasienommer behoort glo aan ’n voertuig van die huurmotormaatskappy, Avis, in Gauteng.

’n Bron sê die voertuig is op 14 Oktober op die N2 naby Riversdal in die Wes-Kaap, deur verkeerskameras opgemerk. Die bron kon nie sê of die voertuig op pad na Kaapstad was of die Wes-Kaap verlaat het nie.

Altwee die mans wat vir ondervraging ingeneem is, het glo die taxibaas as die baasbrein agter die moord op Mihalik geïdentifiseer.

Dinsdag kort voor 15:00 het die polisie bevestig dat minstens een man vir “ondervraging” ingeneem is.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het Woensdagoggend bevestig dat ’n tweede persoon vir ondervraging ingeneem is, maar nog nie aangekla is nie.

Mense troos mekaar voor die skool waar die moord gepleeg is. Foto: Adrian de Kock

‘AK47 sou te veel aandag trek’

’n Bron met kennis van huurmoordenaars in KwaZulu-Natal, het Woensdag gesê hy is verbaas oor die tipe vuurwapen wat deur die vermeende huurmoordenaar gebruik is.

“Huurmoordenaars wat in KwaZulu-Natal al deur taxibase gebruik is maak gewoonlik van AK47’s gebruik. Maar dit sou seker aandag getrek het as hulle in die Kaap met ’n AK47 in die straat sou loop.”

Hy sê dat sulke huurmoorde gepleeg is waar verdagtes uit gebiede soos Eshowe, Nongoma en Kranskop in KwaZulu-Natal kom.

Bronne sê indien die twee mans Woensdag in hegtenis geneem en aangekla word, hulle heel moontlik Donderdag in die landdroshof in Kaapstad op aanklagte van moord en poging tot moord sal verskyn.

Mihalik se lyk word verwyder. Foto: Aljoscha Kohlstock, News24

’n Ooggetuie het Dinsdag vertel hoe die vermeende huurmoordenaar tot by Mihalik se venster geloop en die vuurwapen daarteen gedruk het. Sy het twee skote kort na mekaar hoor afgaan. Die man het daarna nonchalant na die voertuig waarmee hy daar aangekom het, teruggeloop, by die passasierskant ingeklim en die voertuig het weggejaag.

Sy was so verbouereerd dat sy nie geweet het wat om te doen nie. Mihalik se 17-jarige dogter wat ook in die voertuig was, het teen daardie tyd buite haar pa se motor gestaan en histeries gehuil-skreeu dat iemand ’n ambulans moet bel. Haar pa was egter reeds dood.

Meer oor:  Pete Mihalik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.