Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bale sybokhaar teruggevind ná vermeende kaping

Nagenoeg R4 miljoen se sybokhaar is in Port Elizabeth teruggekry nadat die vragmotor wat die sybokhaar vervoer het, blykbaar gekaap is.

Die 90 bale met sybokhaar is Maandag op ’n veld in Soweto-on-Sea in die stad aangetref, terwyl die gekaapte vragmotor en sleepwa in Ou Uitenhageweg in Kleinskool verlate gevind is.

Die vragmotorbestuurder is later opgespoor, maar die polisie sou eers Dinsdagoggend ’n verklaring van hom bekom het oor die gebeure gedurende die beweerde kapingsvoorval.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die vragmotor en sleepwa het Maandagoggend ’n depot in Burmanweg in Deal Party verlaat en was vir Uitenhage bestem.

Polisiebeamptes in Soweto-on-Sea in Port Elizabeth waar die 90 bale met sybokhaar gevind is. Foto: Verskaf

Die vragmotor was vermoedelik na die verwerkingsaanleg in Uitenhage onderweg en daar word reeds deur ingeligte bronne bespiegel dat die kapers presies geweet het wanneer en waar die vragmotor sou ry.

Die vragmotoreienaar het Maandagoggend agterdogtig geraak toe die sein van die vragmotor se opsporingstoestel verdwyn terwyl die vragmotor na Uitenhage onderweg is. Terwyl die eienaar na die Swartkops-polisiekantoor onderweg was om ’n kapingsvoorval aan te meld, het hy die bale met sybokhaar in Soweto-on-Sea opgemerk en die polisie gekontak.

Dié voorval was minstens die vierde voorval sedert verlede jaar waarin vragmotors met sybokhaar in en om Port Elizabeth geteiken word.

Sedert verlede jaar is dit minstens die vierde soortgelyke voorval (in die Nelson Mandelabaai-metro) waarvan ons bewus is waar ’n vragmotor met dierevesel gekaap is.

Riaan Marais, woordvoerder van Sybokhaar Suid-Afrika, sê hulle is onseker waarheen die kapers die bokhaar sou vat indien hulle daarmee weggekom het.

“Daar is min plekke wat so ’n groot hoeveelheid sybokhaar sal koop, en selfs dan is daar protokolle om dit na te spoor en vas te stel waar dit vandaan kom.

“Daar is ook baie goeie samewerking tussen die verskillende organisasies in die sybokhaarbedryf, en as gesteelde bokhaar, veral so ’n groot hoeveelheid, skielik weer êrens opduik, sal dit beslis aandag trek.”

Hy sê die toename in die diefstal van sybokhaar is beslis ’n bron van kommer vir hulle.

“Diefstal op plase is lankal ’n groot probleem en nou kom grootskaalse diefstal soos dié voorval ook meer gereeld voor.

“Sedert verlede jaar is dit minstens die vierde soortgelyke voorval (in die Nelson Mandelabaai-metro) waarvan ons bewus is waar ’n vragmotor met dierevesel gekaap is.

“Soos ons verstaan, is al die gesteelde bale teruggevind en ons is baie dankbaar daarvoor. Ons hoop niemand het tydens die voorval seergekry nie.”

Naidu sê die polisie ondersoek die voorval, maar teen Dinsdagoggend was niemand al in hegtenis geneem nie.

Enigeen met inligting kan speur-lt.kol. Willie Mayi van die provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid bel by 082 697 5914.

Meer oor:  Port-Elizabeth  |  Kaping  |  Sybokhaar  |  Polisie  |  Vragmotor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.