Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ballistiese toetse sal wys wie konstabel geskiet het
Konst. Nceba Kolina is Woensdagaand doodgeskiet terwyl hy en kollegas op die spoor van huisrowers op ’n plaas buite Stellenbosch was. Foto: Facebook

Hy het op sy rug gelê met bloed oor sy hele gesig toe ’n kollega Woensdagaand op konst. Nceba Kolina (31) van die Stellenbosch-polisiekantoor afgekom het.

Kolina, ’n lid van Stellenbosch se misdaadvoorkomingseenheid, is vermoedelik deur ’n kollega of ’n private veiligheidswag langs die bekende wynplaas Meerlust doodgeskiet.

Hy is glo van agter in die kop geskiet.

Lede van die eenheid het Woensdagaand gereageer op inligting dat ’n huisroof op ’n plaas in die omgewing beplan word. Die rowers het toe inderdaad omstreeks 20:00 op ’n plaas naby Vlottenburg toegeslaan.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die polisieman is omstreeks 21:50 geskiet toe hy ’n verdagte agternagesit het. Hy is op die toneel aan sy beserings dood.”

Kolina se dienspistool is glo langs hom gevind met al 15 patrone wat aan hom uitgereik is, nog in die magasyn.

Polisielint op die plek waar konst. Nceba Kolina Woensdagaand geskiet is. Foto: Adrian de Kock

Die polisie het vier vuurwapens, waaronder dié van die oorledene en ’n veiligheidswag, vir ballistiese toetse ingeneem.

Die plek waar Kolina naby die White City-woongebied by Meerlust dood is, was Donderdag nog met ’n geel polisielint afgesper.

’n Inwoner van White City, wie se huis naby die toneel van die skietery is, sê sy en haar seun het Woensdagaand van die sirenes naby haar huis wakker geword.

“Ons het oorweeg om uit te gaan, maar was bang dat dit dalk gevaarlik is. Toe hoor ons twee skote klap,” sê die sy.

Die vrou het ook gesê hul hond het aanhoudend geblaf.

Die stuk veld waar konst. Nceba Kolina Woensdagaand gesterf het.Foto: Adrian de Kock

Donderdagoggend was daar talle voetspore in die modder op die toneel. Daar was ook blou mediese handskoene wat klaarblyklik ná die skietvoorval deur polisiebeamptes en forensiese beamptes gebruik is.

Moses Dlamini, woordvoerder vir die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod), het Donderdag gesê ’n lykskouing sal Vrydag gedoen word.

“Dit sal bepaal of die beampte deur ’n kollega geskiet is.”

Die toneel Woensdagaand nadat konst. Nceba Kolina noodlottig gewond is. Foto: Verskaf
Polisievoertuie staan op die toneel waar konst. Nceba Kolina doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Hy het gesê Opod-ondersoekers is Donderdag omstreeks 03:14 ingelig dat ’n polisiebeampte op ’n plaas naby Stellenbosch doodgeskiet is. Die verdagte het gevlug.

Daar is aan Opod gesê die polisiebeamptes het geskiet terwyl hulle vermeende rowers agternagesit het. Geeneen van die verdagtes is gewond nie.

Opod is ook ingelig dat ’n polisieman in die proses doodgeskiet is.

Dlamini het bevestig dat daar bewerings is dat Kolina dalk deur een van sy kollegas geskiet is.

“Opod kan dit nie bevestig nie. Ons is besig met ’n voorlopige ondersoek.”

As dit die geval sou wees, sal Opod die ondersoek oorneem totdat dit afgehandel is.

* Hannes Myburgh van Meerlust het in ’n verklaring gesê die voorval was nie op hul plaas nie, maar op ’n eiendom van die bemagtigingsprojek Faure Agri Village.

“Meerlust is dus nie betrek by die ondersoek nie.”

Hy het ook hul meegevoel aan die naasbestaandes van die oorledene en die polisie oorgedra.

Meer oor:  Polisie  |  Konstabel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.