Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Batchelor het die verkeerde mense kwaad gemaak . . .’

Die onderwêreld van Johannesburg is niemand se speelmaat nie. “Dis ’n geval van jy speel saam en hou by die reëls of jy groet,” het ’n bron Vrydag aan Rapport gesê.

Marc Batchelor in aksie op die sokkerveld. Foto: Daily Sun

Dit is nadat die voormalige sokkerspeler Marc Batchelor die afgelope week in sy motor by sy huis in Olivedale afgemaai is. Dit was vermoedelik ’n sluipmoord wat deur lede van dié onderwêreld gereël is.

Waarom Batchelor hul teiken was, is nie bekend nie. Batchelor het skynbaar die laaste tyd as skuldinvorderaar gewerk.

Die modus operandi wat sy moordenaars gebruik het – twee gewapende aanvallers op motorfietse, van wie die een skiet en die ander bestuur – is in die laaste paar jaar gereeld gebruik deur lede van Johannesburg se Serwiese onderwêreld.

Die rykmansbuurt Bedfordview is die woonplek van baie berugte karakters met bande in dié wêreld. “Bedfordview is die ideale plek vir hulle omdat dit ’n ryk woonbuurt is en net tien minute van die O.R. Tambo Internasionale Lughawe af is. Dis toeganklik en sentraal geleë,” vertel ’n bron wat self daar bly. “Die laaste paar jaar het baie oorsese mense hier kom bly, veral van Serwiese en Tsjeggiese afkoms. Die bekendste van hulle is die misdaadbaas Radovan Krejcír, wat nou in die tronk sit.”

‘In sy hart was hy ’n goeie ou.’

Hy lag, dan hoes hy. “Nadat hy hier ingetrek het, het alles verander en dit het net soveel gevaarliker geraak,” sê die bron. Daar is selfs mense van dié onderwêreld wat hul sake uit die tronk voortsit, sê hy.

Krejcír is een van die min mense wat ’n aanslag op sy lewe in 2013 oorleef het. Hy is in Februarie 2016 vir 35 jaar lank tronk toe gestuur vir sy aandeel in die ontvoering en marteling van Bheki Lukhele, wie se broer, net bekend as Doctor, met 25 kg tik verdwyn het.

“Ons het hier te doen met ’n oorlog om ’n monopolie te kry in dwelmhandel. Dis waaroor dit gaan. Dis ’n bedryf wat miljarde rande werd is en die meeste ouens wat die laaste paar jaar in sluipmoordaanvalle gesterf het, was betrokke by dwelmhandel,” sê ’n bron. Dié bron voeg egter vinnig by dat Batchelor, sover hulle weet, nie met dwelms handel gedryf het nie.

Jerome Safi, mede-eienaar van The Harem, ’n seksklub in Bedfordview, sê hy vermoed Batchelor het betrokke geraak in die onderwêreld sonder dat hy presies besef het waarvoor hy hom inlaat. “Dis die eerste reël – as jy by dié tipe leefstyl wil inval, moet jy bereid wees om die gevolge te dra en jy kan nooit weer daar uitkom nie. Hy het verander, maar ek dink steeds in sy hart was hy ’n goeie ou,” sê Safi.

Nog ’n bron sê Batchelor was benewens sy skuldinvordering ook betrokke by ’n veiligheidsmaatskappy. “En om eerlik te wees, hy het die laaste paar jaar baie mense baie kwaad gemaak. Die verkeerde mense . . .”

Lt.kol. Lungelo Dlamini, ’n woordvoerder van die polisie in Gauteng, sê die polisie volg leidrade op en soek nog na die motief vir die fyn beplande moord.

Radovan Krejcir Foto: Mary-Ann Palmer

Hy sê die polisie het ’n gespesialiseerde span mense wat al jare lank na die misdaad in die omgewing kyk en werk ook nou saam met Interpol. “Die misdade is baie kompleks en deel van ’n groter netwerk van georganiseerde misdaad,” sê hy.

Die private speurder Mike Bolhuis sê die sluipmoordenaars verkies motorfietse omdat die voertuie moeilik herken word en omdat die skieters se identiteit verbloem is onder valhelms en beskermende klere.

Meer oor:  Radovan Krejcir  |  Marc Batchelor  |  Bedfordview  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.