Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Batchelor: ‘Hy is nie vir dwelms geskiet – vir goud’

Marc Batchelor is nie doodgeskiet oor ’n mislukte dwelmtransaksie nie, maar oor R1,4 miljoen van ’n berugte bendebaas wat tydens ’n goudtransaksie weggeraak het.

Só sê ’n anonieme bron uit die onderwêreld met kennis van Batchelor se laaste dae.

Die private speurder en skuldinvorderaar Gene Kotton by Marc Batchelor se begrafnis einde verlede maand. Foto: Gallo Images

Batchelor, ’n voormalige sokkerster wat vir Orlando Pirates en Kaizer Chiefs gespeel het, is in Julie buite sy huis in Johannesburg in ’n sluipmoord doodgeskiet.

Die Sunday Times het vroeër berig hy is vermoedelik vermoor omdat hy betrokke was by die diefstal van ’n ton kokaïen.

Maar Rapport se bron sê die ondersoekers wat dié bewerings ondersoek, gaan niks kry nie.

“Batch en sy vennote, Jacques Olckers, Gene Kotton en die bendebaas het die regte bekom om goudstofdraende erts in die Vrystaat te ontgin en rehabiliteer,” sê die bron.

Die bendebaas het glo R1,4 miljoen voorgeskiet.

Jacques Olckers het volgens ’n bron glo op die dag van Batchelor se dood hom gedreig. Foto: Facebook

“Hierdie geld het iewers weggeraak en die bendebaas is woedend. Jy vat nie aan só iemand se geld en kom daarmee weg nie,” sê die bron.

Gene Kotton, ’n private speurder en skuldinvorderaar, is op die toneel van die sluipmoord gearresteer omdat hy na bewering Batchelor se selfoon gevat en die inligting daarop uitgevee het. Die polisie het beslag gelê op die foon, wat hulle vermoed Batchelor s’n is.

Kotton is die volgende dag vrygelaat en hy is nooit aangekla nie.

Hy sê die selfoon wat die polisie by hom gekry het, is Batchelor se meisie, Cheré Gray, s’n. Waar Batchelor se foon is, weet hy nie. Hy beweer Gray het self haar eie foon se inhoud op die toneel uitgevee, die foon vir hom gegee en die pad gevat.

Kotton sê bewerings oor die ton kokaïen is ’n bogstorie.

“Ek dink nie iemand in Suid-Afrika het al soveel coke op een slag gesien nie,” het hy die afgelope week gesê.

Hy erken hy was ’n vennoot in die goudtransaksie saam met Batchelor, Olckers en die bendebaas en die geld hét weggeraak, maar hy sê dit was ’n klein transaksie.

Kotton sê dit was nie soveel geld nie, die drie van hulle – hy, Batchelor en die bendebaas – het elk maar R80 000 ingesit.

“Niemand sal iemand vir so min geld skiet nie,” sê Kotton.

Kotton beweer Olckers het die geld gevat.

Rapport het die afgelope week verskeie stemboodskappe gehoor wat die vennote skynbaar vir mekaar aangestuur het oor die goudtransaksie, maar die waarde daarvan word nie genoem nie.

Dit is volgens Rapport se bron van dié boodskappe wat in opdrag van die bendebaas vernietig moes word op die toneel nadat Batchelor geskiet is.

Hy beweer ook dat Olckers vir Batchelor glo op die dag van sy dood gedreig het. Daar was onmin tussen die twee oor die geld wat verdwyn het, sê die bron. Hy sê ook Batchelor is nie die laaste ou wat sy lewe weens die vermiste geld gaan verloor nie.

“Die geld is nog steeds missing en Kaapstad soek dit terug,” sê die bron.

Niemand is nog vir Batchelor se moord gearresteer nie.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, wou nie kommentaar lewer nie. “ ’n Verklaring sal uitgereik word as daar enige verwikkelinge in die saak is,” het hy Vrydag gesê.

Rapport kon nie vir Gray opspoor nie. Volgens Rapport se bron én Kotton het sy en en die tuinier, Pexie, wat tydens Batchelor se skietdood saam met Batchelor in die motor was, spoorloos verdwyn.

Jacques Olckers wou nie kommentaar lewer nie: “F***f ek praat nie met die media nie,” het hy gesê.

Meer oor:  Gene Kotton  |  Jacques Olckers  |  Marc Batchelor  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.