Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Batohi: Misdaad kan skerp styg

Al word aansienlik minder geweldsmisdade in die inperkingstyd aangemeld, word daar gevrees dat veral armoede en honger tot ’n ernstige toename in rooftogte, inbrake en diefstal kan lei.

“Ons verwag namate die inperking versag en die ekonomiese krisis verdiep ’n toename in armoedegedrewe misdade, soos diefstal, straatrooftogte, inbrake by ondernemings en huise, geslagsgegronde geweld en openbare geweld, kubermisdaad, korrupsie en xenofobiese aanvalle,” het adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, gesê.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, verwag ’n besliste toename in misdaad omdat derduisende mense weens die inperking honger ly.

“Ek dink nie mense besef die gevaar nie van ’n land waar miljoene mense wat reeds bitter min het om te verloor, se menswaardigheid ook weggeneem word. Meer mense wat nie voorheen by geweld betrokke sou raak nie, sal nou betrokke raak daarby.”

Die skade aan die ekonomie en die gevolge daarvan gaan nog die volgende klompie maande gevoel word, indien nie jare nie.

Hy meen die polisie is nie voorbereid nie.

“In hierdie stadium is daar geen wetstoepassing wat in polisieskofte gedoen word nie. Saam met die inperking en die regulasies wat hulle moet afdwing, is dit onmoontlik om wetstoepassing toe te pas. Nou skielik sien ons die minister van polisie gee meer om daaroor om drank en sigarette en branderplankryers op die strand te verbied.”

Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, sê tans plaas groter polisie- en weermagsigbaarheid ’n demper op sekere soort misdaad. Die teenkant is dat mense winkels stormloop en kos en kontant steel.

“Mense word selfs in arm gemeenskappe van voedselinkope beroof. Ek bly bekommerd oor die verswakking van die ekonomie en die ellende wat daarmee saamgaan. Die skade aan die ekonomie en die gevolge daarvan gaan nog die volgende klompie maande gevoel word, indien nie jare nie.”

Prof. Rudolph Zinn, lektor in polisiëring en forensiese ondersoek by Unisa, sê uit onderhoude wat hy met misdadigers in die tronk gevoer het, blyk dit hulle verkies om vooraf te beplan.

“Misdadigers gaan die polisie se optrede bepaal en soos die inperkingsmaatreëls afneem, gaan ons toenemend meer huis- en sakerooftogte sien.

“Ons bekommernis is as die staat nou ’n geografiese bepaling maak oor waar die meeste Covid-19-gevalle is en die polisie soontoe skuif, gaan misdaad beweeg na die plekke waarvan die polisie onttrek. Dan sal private maatskappye daardie gebiede moet beveilig.”

Bheki Cele, minister van polisie, het vroeër gesê die verbod op drankverkope is ’n groot rede vir die afname in kontakmisdaad.

Maar Zinn sê hy is nie daarvan oortuig nie.

“Toe ons in inperking ingegaan het, het baie mense nog baie drank gehad.”

Terwyl ander misdade afgeneem het, het veediefstal toegeneem.

Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum en senior lektor in penologie (die ondersoek na die straf van misdaad en gevangenisbestuur) by Unisa, sê veediefstal-inligtingsentrums funksioneer nie tans nie.

“Ons GPF kan nie funksioneer nie en mag geen patrollies ry nie, so sigbaarheid het afgeneem. Ons maak dit vir veediewe maklik.”

Volgens hom is daar ’n toename in voorvalle waar net twee of drie diere op ’n slag gesteel word.

“Die eerste week van die inperking, vanaf 26 Maart, het die misdaad afgeneem, maar soos die honger toeneem en daar minder kos is, neem diefstal toe.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.