Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bedrog by VBS ‘epies en baie openlik’

Amptenare van VBS Mutual Bank het sommer deposito’s versin en met rekenaarinskrywings vir hulself geld “geskep”, sê Anoosh Rooplal, kurator van die bank.

Andile Ramavhunga, VBS-hoof.

Boonop sê Rooplal VBS het miljoene rande se omkoopgeld betaal aan die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat staatsamptenare se pensioen bestuur, en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa).

Deon Botha, OBK-woordvoerder, het gister gesê hulle is nie bewus van die beweerde omkopery nie, maar sal optree indien dit aan die lig kom. Die OBK se beleggingsbesluite word nie deur ’n individu geneem nie, sê hy.

VBS, wat veral bekend is omdat hy ’n lening aan oudpres. Jacob Zuma toegestaan het vir sy Nkandla-skuld, het in Maart tot niet gegaan.

Rooplal het Vrydag ’n verklaring  by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien waarin hy die “epiese” skaal van bedrog en skrikwekkende ongerymdhede blootlê. Hy vra in ’n dringende aansoek om Vele Investments, VBS se meerderheidsaandeelhouer, te sekwestreer.

Die oortreders het teen ’n vinniger tempo geld gesteel as wat deposito’s ingekom het.

Die direkteure van VBS en Vele het meer as R1,5 miljard gesteel van individuele beleggers en munisipaliteite wat geld daar belê het, sê Rooplal. Die meeste van Rooplal se skokbewerings kom van Phophi Mukhodobwane, voormalige tesourier van die bank.

Luidens die hofstukke het ’n “senior uitvoerende bestuurder” van die OBK ’n tas met R5 miljoen kontant gekry. In ruil hiervoor het dié grootkop glo verseker dat die OBK ’n kredietgerief van R350 miljoen aan VBS verskaf – oënskynlik sodat VBS ’n onderneming vir tenderfinansiering kon begin.

Maar VBS-base het dié kredietlyn  dadelik begin vreet, sê Rooplal. Dit is gedoen deur vals finansieringskontrakte te skep. ’n Bedrag van R1,5 miljoen is ook glo as omkoopgeld betaal aan “individue by Prasa” om te reël dat dié arm staatsbeheerde onderneming R1 miljard by VBS belê.

Mukhodobwane se bewerings betrek ook die ANC se tesourier in Limpopo, Daniel Msiza, en die ANC-jeugleier in Gauteng, Kabelo Matsepe.

City Press, susterskoerant van Rapport, het vroeër berig Msiza het ’n lening van R9,5 miljoen by VBS gekry om ’n konferensiesentrum in Polokwane te koop, maar hy het gesê dit was ’n normale sakelening.

Op 22 Desember verlede jaar het ’n maatskappy wat aan Matsepe behoort R1,5 miljoen gekry, lui die nuwe hofstukke. Mukhodobwane sê dit was hoe omkoopgeld gekanaliseer is.

In boodskappe tussen VBS-base bespreek hulle hoe “Kabelo” en “Bra Danny” kan help om seker te maak munisipaliteite stort geld in die bank.

Matsepe het Saterdag bevestig sy maatskappy het in 2016 ’n kontrak met VBS  aangegaan om kapitaalwerwing teen betaling te doen. “Ek ontken die transaksie wat glo op 22 Desember 2017 plaasgevind het.”

Rooplal sê VBS moes sorg dat daar gereeld nuwe harde kontant invloei, omdat hulle letterlik vals “deposito’s” op die rekenaarstelsels geskep het. Dié “deposito’s” is oorgedra na die grootkoppe se persoonlike rekenings.

Wanneer hulle ’n positiewe balans uit die lug gekry het, kon hulle regte kontant oorplaas of trek, sê Rooplal.

Die enigste verloorders was die individue, begrafnisverenigings, die OBK en munisipaliteite wat regte geld in die stelsel gevoer het.

Die “geld” wat Vele se direkteure glo laat reën het, is so wild versin dat hulle selfs die meerderheidsbelang in VBS self bekom het met “geld” wat nie bestaan het nie.

Volgens Rooplal het Vele se direkteure nie net geld gebruik om ingevoerde motors en luukse eiendomme te koop nie, maar ook ander ondernemings sonder dat hulle ooit regtig ’n sent betaal het. Vele het só die Insure Group Managers, Malibongwe Petroleum, Anglo African Finance, Mvunonala Holdings en Fairsure gekoop.

Rooplal sê die bedrog was wydverspreid, maar ook “ongesofistikeerd” en baie openlik. “Die oortreders het in werklikheid teen ’n vinniger tempo geld gesteel as wat deposito’s ingekom het. Dít is wat die groot likiditeitskrisis by VBS veroorsaak het.”

Ten spyte van dié beroerde situasie het Sipho Malaba, KPMG se hoofouditeur vir dié rekening, einde verlede jaar VBS se finansiële state afgeteken.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.