Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bejaarde (87) byna verwurg ná sy aanvaller inlaat

’n Man wat hom glo voorgedoen het as ’n amptenaar van die Kaapstad-metro het ’n bejaarde vrou van Kraaifontein aangeval nadat hy haar laat glo het dat hy die watermeter by haar huis kom lees.

Patricia Brookhouse (87), wat glo aan demensie ly, word in die Karl Bremer-hospitaal in Bellville behandel nadat die man haar Maandag omstreeks 10:00 in haar huis probeer verwurg het.

Patricia Brookhouse se huis in Peerless Park, Kraaifontein.Foto: Ané van Zyl

Harry en Glenda Beyers, Brookhouse se jare lange bure in die straat in Peerless Park, was die eerstes om agter te kom iets is nie pluis by haar huis nie.

“Die hek voor haar huis het die hele dag oopgestaan,” sê Harry. “Ek het dit dadelik opgemerk, want sy het dit altyd toegehou. Ek het gemeenskapslede van ons plaaslike kerk gekontak wat haar probeer bel het, maar haar selfoon het net gelui.”

Harry sê hy en sy vrou het Brookhouse se aandag probeer kry deur aan haar muur te klop aan hul kant van die erf, maar sy het nie gereageer nie.

“Toe dit donker word, besluit ek om self ondersoek in te stel. Ek het nog ’n buurman gaan roep en ons is die erf in,” sê Harry.

“Die veiligheidshek was oop, maar die deur was gesluit. Toe hoor ons haar roep van binne die huis. Ons het dadelik die buurtwag gebel wat toe weer ’n private sekerheidsmaatskappy, Titanium Securitas, gebel het.

“Ons kon nie by die huis inkom nie en ons was bang ’n aanvaller is nog daarbinne,” sê Harry.

“ ’n Sekuriteitswag was gou daar en het die voordeur oopgekry. Hy het rondgeloop en seker gemaak dat die aanvaller weg is. Ons het ingegaan en haar in die gang voor haar slaapkamerdeur op die vloer gekry.”

Volgens Harry het Brookhouse op haar rug gelê. Daar was bloed aan haar een arm en been. Sy het ook krapmerke en blou kneusmerke om haar keel gehad.

Luidens ’n verklaring van Titanium Securitas het hul mediese personeel omstreeks 21:15 op die toneel aangekom en Brookhouse gestabiliseer voordat sy hospitaal toe geneem is.

“Sy het op die vloer gelê toe ons daar aankom. Sy het verskeie beserings opgedoen soos wat sy teen die aanvaller terugbaklei het,” sê Titanium Securitas in ’n verklaring.

Volgens Harry was die huis in ’n warboel. “Hy was seker op soek na geld.”

Hy sê Brookhouse is ’n baie vriendelike vrou wat altyd buite in haar tuin staan en met verbygangers gesels.

“My vrou het al vir haar gesê dis nie veilig om so met almal te praat nie. ’n Mens weet nooit watter tipe mense daar verbyloop nie. En hulle het sekerlik geweet sy woon alleen, of hulle het haar dopgehou.”

Volgens Harry het Brookhouse gesê die aanvaller het haar gewaarsku dat hy sal terugkom na haar huis.

“Iemand van die gemeente van Jehovasgetuies gaan probeer om iemand te kry om by haar te kom bly. Hulle help haar gereeld met inkopies doen en so meer.”

Harry sê Brookhouse het ’n seun, maar hy woon oorsee, glo in Engeland.

Die polisie ondersoek die voorval, sê kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Patricia Brookhouse  |  Kraaifontein  |  Misdaad  |  Verwurg  |  Aanvaller  |  Bejaarde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.