’n Bejaarde boer van die Ogies-distrik in Mpumalanga is Sondag deur drie mans oorval toe hy op pad kerk toe sy plaashek oopgemaak het.
Die boer, wat sy naam weens veiligheidsredes nie genoem wil hê nie, is met ’n mes gesteek.

Die plaas buite Ogies waar 'n boer Sondag oorval is toe hy op pad kerk toe was. Foto: Facebook
Ian Cameron, hoof van AfriForum se landelike veiligheidsforum, sê die man is nie ernstig beseer nie.
Die drie rowers het Sondagoggend glo ’n mat oor die lemmetjiesdraad om die plaas gegooi en só toegang tot die plaas verkry. Een van hulle het glo ’n pistool en die ander twee messe by hulle gehad.
Die rowers het die boer van in sy 70’s oorval en met ’n mes in sy arm gesteek toe hy uit sy Ford Ranger-bakkie geklim het om die plaashek oop te maak. Hy was op pad kerk toe.
Luidens inligting van ’n plaaslike buurtwag het twee van die aanvallers by hom gebly en sy selfoon en beursie met sy kaarte gegryp terwyl een van die mans intussen na die plaashuis toe is.
’n Familielid wat in die huis was, het onraad vermoed toe sy ná ’n ruk nie die bakkie se dreuning hoor nie. Sy het al die veiligheidshekke in die huis toegemaak en in ’n slaapkamer gaan skuil. Sy het ’n wapen by haar gehad en toe glo uit ’n badkamervenster op die mans geskiet.
Die drie mans het daarna in die Ford Ranger-bakkie met die boer se selfoon en bankkaarte gevlug.
Die Ogies-polisie en die Hoëveld-plaaswag het in samewerking met boere van die gebied ’n reuse-soektog na die aanvallers begin. ’n Private helikopter is ook ingespan om met die soektog te help.
Die bakkie is sowat 2 km vanaf die plaashek gekry. Die aanvallers is vermoedelik deur van hul makkers by ’n nabygeleë teerpad opgelaai.