Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bejaarde deur kombuisvenster op hoewe doodgeskiet

Die polisie soek na die aanvallers wat ’n 82-jarige man op sy hoewe in Springs aan die Gautengse Oos-Rand doodgeskiet het.

Die man is Donderdagaand omstreeks 19:30 deur sy kombuisvenster geskiet.

Die kleinhoewe val onder Springs. Foto: Ian Cameron

“Die oom het vanaf die televisiekamer by die kombuis, waar die tannie vir hul aandete voorberei het, ingeloop toe die skote klap,” het Steve Fourie, ’n lid van die plaaslike buurtwag, Vrydag aan Netwerk24 gesê.

Volgens Fourie woon die egpaar al ’n geruime tyd alleen op die hoewe, noordoos van Springs.

“Die oom was 82 en die tannie 72. Hulle voer ’n kluisenaarsbestaan en is baie onafhanklik. Die tannie het ná die skietery by die deur uitgevlug en in die gras langs die huis gaan wegkruip. Sy het eers vanoggend (Vrydag) die moed bymekaar geskraap en oor ’n heining geklim om vir hulp by die buurman aan te klop,” het Fourie gesê.

“Die tannie sê dat sy twee mans by die kombuisvenster gesien het oomblikke voordat die oom geskiet is. Hy is op die toneel dood. Toe ons (die buurtwag) saam met die polisie by die toneel opdaag, het die oom se hond by hom gewaak. Die hond wou almal byt en ons moes ’n kombers oor sy kop gooi en in ’n kamer gaan toemaak sodat die polisie hul werk kon doen,” sê Fourie.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê dat die aanvallers weggehardloop het.

“Die eggenote van die oorledene is getraumatiseerd en sal berading ontvang. Sy het twee aanvallers by die kombuisvenster gesien, maar die moontlikheid bestaan dat daar meer mense kon wees. Dit wil in dié stadium voorkom asof niks in die voorval gesteel is nie.”

Kapt. Johannes Ramphora, polisiewoordvoerder in Springs, het die voorval aan Netwerk24 bevestig.

“ ’n Moorddossier is geopen en die polisie is besig met die ondersoek. Dit is nog nie duidelik waarom die egpaar aangeval is nie,” sê Ramphora.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Springs  |  Doodgeskiet  |  Bejaarde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.