Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bejaarde egpaar, gaste naby Clanwilliam aangehou
Die aanvallers het die studeerkamer in die huis heeltemal omgekeer.

Rondom 16:00 Maandag het ’n wit motor vyf mans naby ’n bejaarde egpaar se plaashuis afgelaai, en vir drie uur lank die huis dopgehou.

Terwyl die 78-jarige eggenoot aandete gemaak het, het die mans toegeslaan.

Chris (78) en Anette (73) du Plessis, asook ’n tweede egpaar wat in ’n gastehuisie daar naby tuisgegaan het, is Maandag van 19:00 tot 22:00 as gyselaars aangehou deur die vyf gewapende mans wat ook handskoene en balaklawas saamgebring het om hul plan uit te voer.

Die mans het die Du Plessis’s se huis op die plaas Groenkol in Elandsberg naby Clanwilliam omgekeer, vir Chris aangerand en Anette, ’n kankerlyer wat tans behandeling ontvang, in die gang rondgesleep.

Hulle was op soek na wapens, geld en juwele, vertel Willem Engelbrecht, die plaaseienaar en Chris se susterskind.

Volgens hom het die aanvallers twee vuurwapens en messe by hulle gehad.

“Hulle het kwaad geword toe hulle sien daar is nie genoeg om te buit nie,” sê Engelbrecht. “Hulle het my oom deur die gesig geslaan en baie hardhandig hanteer. Hy was baie getraumatiseer deur die hele storie.”

Volgens Engelbrecht was die vyf deurentyd in kommunikasie met ’n sesde persoon oor die telefoon, en het ook die plaas, sowat 25 km van Clanwilliam, geken.

“As hulle net padlangs gery het, sou hulle nie geweet het daar is ’n huis nie. Jy kan dit nie van die pad af sien nie, so hulle moes al voorheen hier gewees het,” sê Engelbrecht.

Hy is van mening dat die vyf dit baie mooi beplan het.

“Toe hulle aanvanklik by die huis inkom het hulle alle selfone gevat, rekenaars uitgetrek en WiFi-kabels geknip sodat daar geen kontak met die buitewêreld kan wees nie.

Foto’s is van die muur afgeruk en stukkende glas lê in die gang.

“Hulle het my oom-hulle en hul gaste gedreig met die dood as hulle sou probeer wegkom.”

Volgens Engelbrecht het die mans rondom 22:00 vir die vier gesê hulle gaan nou slaap in ’n ander gedeelte van die huis, en hulle moet doodstil bly en bly waar hulle is.

“Die vroulike gas wat saam met haar man vasgebind is, se hande was nie so styf vasgemaak nie en sy kon loskom.”

Haar man se selfoon was nog in die kamer weggesteek en hulle kon dit gebruik om met iemand kontak te maak.

“My oom was toe so verbouereerd en deurmekaar dat hy heeltyd my verkeerde nommer gebel het. Hulle kon my toe nie in die hande kry nie, en het die buurman en die polisie gebel,” vertel Engelbrecht.

Volgens hom het die mans toe nie gaan slaap soos hulle gesê het nie, maar weggery met die Du Plessis’s se Honda CRV-voertuig.

Netwerk24 het vroeër berig polisielede het leidrade opgevolg en kort ná die aanval twee van die verdagtes in die Piketberg-omgewing vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem.

Die polisie het Dinsdagaand nog na die res van die vermeende aanvallers gesoek.

Hope klere is uit kaste gegooi.

Die polisie kon nie Woensdag bevestig of daar nog iemand in hegtenis geneem is nie.

Teen Woensdag was speurders steeds by die huis besig met hul ondersoek.

Volgens Engelbrecht gaan dit goed met sy oom en tannie onder die omstandighede.

“Oom Chris is maar lyfseer en op plekke is sy lyf nog geswel. My tannie se elmboog het seergekry, maar omdat sy behandeling ontvang is ons maar baie versigtig met haar.”

Engelbrecht sê hy vermoed hy het Maandagmiddag vroeër verby die aanvallers in hul wit motor gery. Die voertuig was in die rigting van sy eie huis op pad, toe hy die toeter druk en hulle omdraai om in die rigting van die buurplaas te ry.

“Daar was net geen manier om te weet hulle sou later my oom-hulle aanval nie. Ek was onder die indruk die kar is op pad om mense af te laai by die buurplaas. Dit help nie 'n mens neem jouself kwalik nie.”

Papiere, boksies en ’n warmplaat lê op die grond.
Banke se kussings is afgegooi en laaie uitgetrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.