Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bejaarde glo met kierie doodgeslaan

Die bejaarde vrou wat wreed in haar huis in die Koraal-aftreeoord in Polokwane vermoor is, het Vrydag haar 80ste verjaardag gevier.

Jakkie Grobler se bebloede lyk is Maandagoggend omstreeks 11:00 in huis nommer 119 in die Koraal-aftreeoord in Suidstraat digby die nuwe Peter Mokaba-stadion gekry.

’n Kierie wat die aanvaller(s) in haar huis gekry het, is volgens ’n onberispelike bron na aan die ondersoek, vermoedelik gebruik om haar oor die kop te slaan. Houtsplinters is in die badkamer van haar huis gekry.

Die kierie is nadat haar lyk ontdek is, naby een van die geëlektrifiseerde heinings om die aftreeoord gekry.

Die gebreekte bril van Jakkie Grobler (80) het Dinsdag nog op die bedkassie gelê in haar huis in die Koraal-aftreeoord in Polokwane waar sy vermoor is. Foto: Marietie Louw-Carstens

Die polisie het bloed in die badkamer en die hoofslaapkamer van Grobler se huis gekry, sê oudkol. Gawie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke, wat die polisie bystaan met die ondersoek.

Grobler is Sondagaand om 21:00 vir die laaste keer lewend gesien toe haar vriend Frans du Randt (70), wat in dieselfde aftreeoord woon, haar by haar huis afgelaai het. Hulle was die naweek vir haar verjaardagvieringe in Hoedspruit.

‘Wat gaan aan in Polokwane?’

Inwoners van die Koraal-aftreeoord – ’n veiligheidsoord met veiligheidskameras en ’n geëlektrifiseerde omheining – was Dinsdag geskok en verslae oor die moord.

“Jakkie was nog so op en wakker. Sy was geliefd,” sê Elma Venter, wat in dieselfde straat woon.

Jakkie Grobler (80) is in die Koraal-aftreeoord in Polokwane vermoor.

Polokwane is geruk oor die moord op Grobler minder as twee weke nadat Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), uit hul meenthuis in Welgelegen ontvoer en vermoor is.

“Wat gaan aan in ons ‘dorp’? Die misdaad kan nie so aangaan nie,” is ’n refrein wat die afgelope twee weke in bykans elke gesprek in ’n winkel, apteek of restaurant gehoor word.

Die polisie is nog nie seker of Grobler Sondagaand of Maandagoggend vroeg vermoor is nie.

Du Randt het ’n afspraak met haar gehad om Maandagoggend om 11:00 te gaan stap. Hy en Grobler is van die inwoners wat elke dag deur die lushof van die tuine stap.

Die agterkant van die huis in die Koraal-aftreeoord in Polokwane waar ’n 80-jarige vrou vermoor is. Foto: Marietie Louw-Carstens

Sy het nie Maandagoggend die deur oopgemaak nie en haar selfoon was afgeskakel.

Du Randt het deur ’n venster van die huis gesien Grobler lê skuins oor die bed en is toegerol in ’n duvet. Dewald Hattingh, bestuurder van die aftreeoord wat in dieselfde straat as Grobler bly, het die polisie ontbied.

Hy sê die alarm van die geëlektrifiseerde omheining het voor 03:00 Maandagoggend afgegaan. “Ons kon nie toe enigiets sien wat fout is nie.”

Die polisie se forensiese eenheid het Grobler se huis en tuin tot laat Maandagnag vir leidrade gefynkam.

Die ingang na die Koraal-aftreeoord in Suidstraat in Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n moordklag word ondersoek. Mojapelo sê Grobler is ernstig aangerand en het oop wonde aan haar kop gehad.

’n Selfoon en ’n skootrekenaar is uit haar huis gesteel.

Die nuus van Grobler se moord het soos ’n veldbrand deur die stad versprei.

Die bestuur van die Koraal-aftreeoord het Dinsdagmiddag ’n SMS aan inwoners gestuur wat lui: “Ons maak met leedwese die afsterwe van Jakkie Grobler van 119 bekend. Ons wag vir die forensiese uitslag en sal almal dienooreenkomstig inlig.”

Die ingang na die huis van Jakkie Grobler (80) wat in die Koraal-aftreeoord in Polokwane vermoor is. Foto: Marietie Louw-Carstens

Lt.genl. Nneke Ledwaba, Limpopo se polisiehoof, het die “gruwelike misdaad op een van die weerloosste gemeenskapslede” veroordeel en opdrag gegee dat die polisie alle beskikbare hulpbronne inspan om die moordenaar(s) binne 72 uur vas te trek.

Du Randt wou Dinsdag nie kommentaar oor die moord lewer nie. ’n Dogter van hom, wat nie haar naam wou verskaf nie, het met trane in haar oë gesê “dit is ’n baie groot hartseer vir ons”.

“Sy was ongelooflik geliefd. Ons het gedink my pa en tannie Jakkie is veilig hier.”

Grobler se kinders wou ook nie Dinsdag enigiets oor die moord sê nie.

Die huis in die Koraal-aftreeoord in Polokwane waar ’n 80-jarige vrou vermoor is. Foto: Marietie Louw-Carstens

Vlaag inbrake vroeër in aftreeoord

Daar was vroeër vanjaar ’n vlaag inbrake in die Koraal-aftreeoord toe by huise ingebreek is terwyl inwoners geslaap het.

Televisies en elektroniese toerusting is toe gesteel. Niemand is weens die inbrake in hegtenis geneem nie.

In 2018 is ’n bejaarde inwoner ernstig in haar huis in die aftreeoord aangerand.

Van die inwoners met wie Netwerk24 gepraat het, sê hulle gaan vir eers by kinders of familielede bly.

“Dit voel asof misdaad al hoe nader kom en ek wil nie trek nie, want ek hou daarvan om hier te bly,” het Venter in haar tuin vol orgideë gesê.

Desiree van der Walt, DA-parlementslid, het die aftreeoord Dinsdagoggend vroeg besoek en saam met plaaslike DA-raadslede gereël dat die Polokwane-munisipaliteit die lang gras en bosse langs die muur van die oord skoonmaak.

Meer oor:  Jakkie Grobler  |  Polokwane  |  Doodgeslaan  |  Bejaarde  |  Kierie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.