Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bejaarde paar vermoor

Die anti-apartheidsaktivis Cheryl Carolus se skoonma (84) en haar 94-jarige lewensmaat is in hul huis in die boomryke Kaapstadse voorstad Rosebank vermoor.

Trevor Manuel, oudminister van finansies, stoot Graeme Bloch voor die huis weg waar sy ma, Rosalie, en haar lewensmaat, Aubrey Jackson, in Rosebank, Kaapstad, vermoor is. Foto’s: Edrea du Toit

Rosalie Bloch, ’n afgetrede prokureur, en Aubrey Jackson is glo vasgebind en sakke is oor hul koppe getrek. Dis nog nie duidelik hoe hulle dood is nie.

Hulle was 30 jaar saam.

Rosalie is die ma van die bekende onderwyskundige Graeme Bloch, wat met Carolus getroud is.

Rosalie Bloch (84) en Aubrey Jackson (94)

Die polisie is Saterdag om 09:00 ontbied na die paartjie se dubbelverdieping- Victoriaanse huis nadat een van Bloch se sewe kinders, Shaun, op hul lyke afgekom het.

Die polisie het Saterdag nog kringtelevisiemateriaal bekyk van ’n aangrensende gastehuis in ’n poging om leidrade te vind. Volgens ’n polisiebron is drie moontlike verdagtes (twee swart mans en ’n wit vrou) op die kringtelevisiemateriaal geïdentifiseer.

Daar is tekens dat daar by die huis ingebreek is, maar dit is nog nie duidelik of iets vermis word nie.

Ek het Rosalie nog tien dae gelede by ’n Black Sash-geselligheid gesien. Om haar op dié manier te verloor, is baie pynlik.
Pippa Green

Bloch se broer Lance het Saterdag op Facebook gesê: “Ek is steeds stomgeslaan en in skok.”

’n Huisvriendin, Pippa Green, skryf: “Ek het Rosalie nog tien dae gelede by ’n Black Sash-geselligheid gesien. Sy was ’n agtermekaar mens. Om haar op dié manier te verloor, is baie pynlik.”

’n Buurman wat in die buurtwag dien, sê hy het Woensdagaand nog saam met Aubrey gaan stap.

“Hy het gestruikel terwyl ons gestap het, hy was só weerloos.”

Hy sê in die 20 jaar wat hy in Rosebank woon, kan hy geen geweldsmisdaad hier onthou nie. “Baie klein diefstalle, ja. Hier woon baie studente van die Universiteit van Kaapstad hier. Maar niks gewelddadig nie,” sê hy.

Cheryl Carolus (in groen) gee ondersteuning aan ’n familielid. Carolus se skoonma, Rosalie Bloch, en haar lewensmaat, Aubrey Jackson is by hul huis in Rosebank, kaapstad vermoor. Foto: Edrea du Toit

’n Buurvrou sê toe sy die oggend omstreeks sesuur werk toe is, het die bejaarde paar se kamer-, gang- en stoep­lig gebrand.

“Dit was vir my baie vreemd, want gewoonlik is alles daardie tyd afgeskakel.”

Met Rapport se besoek was die polisie besig om van deur tot deur te loop om bure te ondervra.

Cheryl Carolus en Maria Ramos omhels mekaar voor die huis waar Carolus se skoonma en haar lewensmaat vermoor is.

Bloch en Carolus was ook Saterdag by die huis in ’n rustige straat in die boomryke buurt.

Trevor Manuel, voormalige minister van finansies, en sy vrou, Maria Ramos, het later daar opgedaag, waarskynlik om die familie by te staan.

Die Bloch-broers kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Cheryl Carolus  |  Aubrey Jackson  |  Rosalie Bloch  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.