Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bejaarde vrou van Ventersburg sluit aanvaller in toilet toe

Nonnie van Rensburg (84), ’n bejaarde inwoner van Ventersburg, is ses uur lank in haar huis aangehou voordat sy die aanvaller in die toilet kon toesluit en hulp kon ontbied.

Haar nagmerrieondervinding is net een van baie bejaardes in die dorp se ervaring met misdadigers.

Van Rensburg sê sy het Saterdag omstreeks 10:00 by haar stoep uitgegaan om haar kat te roep.

Nonnie van Rensburg (84) by die bed waaraan sy vasgemaak was. Foto: Alet van der Walt

’n Man het om die hoek van haar huis gekom en haar in die huis ingedwing.

Die man, wat aan haar gesê het hy is 21 jaar oud en sy naam is Katleho, het al die huis se deure gesluit, Van Rensburg met sy skoenveters vasgebind en een van haar serpe in haar mond gestop.

“Hy het my hande baie styf vasgebind, ek was seker ek gaan my hande verloor, so erg het dit geswel,” sê sy.

Hy het haar hierna aan haar bed vasgemaak en die huis deursoek vir waardevolle artikels.

Van Rensburg kon haarself van die bed loswikkel, maar kon nie veel meer doen as om haar ongenooide gas te verduur nie.

Die man het op ’n vol bottel whiskey afgekom en dit begin drink.

“Hy wou nie loop nie en het gesê hy wag dat dit donker is, anders sal hy gevang word.”

“Ek was bang hy maak my dood, veral omdat hy gesit en drink het,” sê sy.

Nonnie van Rensburg (84) se arms en gewrigte is erg gekneus toe die aanvaller haar hande met skoenveters vasgebind het. Foto: Alet van der Walt

Die booswig wou ’n paar keer toilet toe gaan en toe hy weer in die toilet is, het sy haar kans waargeneem en hom toegesluit.

Sy kon toe haar noodknoppie in die slaapkamer kry en het dit gedruk.

Van Rensburg sê die aanvaller het die toilet se diefwering van binne af uitgebreek en gevlug voordat veiligheidswagte of ander inwoners hom kon vang.

John Pitzer, ’n inwoner, sê hy het die polisie drie keer gebel.

“Elke keer het hulle gesê daar is nie ’n voertuig nie. Ná die derde keer het twee speurders opgedaag, maar die tannie was baie moeg en dit was al ure later. Ons het toe gevra dat hulle die volgende dag terugkom.”

Ventersburg se polisiekantoor is 170 meter van Van Rensburg se huis af.

Danie de Kock, eienaar van Gosec Security, het wagte buite Van Rensburg se huis geplaas, maar hulle is in die nag aangerand.

Van die inwoners van die dorp was tot soveel as drie keer al die slagoffer van misdadigers, en ’n bejaarde egpaar se kruideniersware is onlangs die dag nadat hulle hul pensioengeld gekry het, uit hul huis gesteel.

Nog ’n inwoner, Alida van Wyk, was al vier keer die slagoffer van ’n bekende rondloper in die dorp.

Die man het Van Wyk se skootrekenaar deur ’n venster van haar huis gesteel, geld uit haar motor in haar motorhuis gesteel en selfs in ’n stadium by haar huis ingebreek.

Inwoners sê hulle meld meestal diefstalle net vir versekeringsdoeleindes aan omdat die booswigte óf nooit in hegtenis geneem word nie óf binne ’n dag of twee weer op straat is.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die polisie is besig met ’n ondersoek oor die bewerings wat gemaak is en sal later op ’n medianavraag reageer.

Meer oor:  Ventersburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.