Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bejaardes op plaas naby Bethulie aangerand

’n Bejaarde vrou is in haar en haar man se plaashuis in die Bethulie-distrik in die Vrystaat deur paramedici behandel nadat sy met ’n ysterstaaf in die maag geslaan is.

Kallie (87) en Marcia (82) Kruger van die plaas Schoonbeeksfontein is Woensdagaand deur twee mans in klapmusse met messe in hul slaapkamer ingewag en aangerand nadat hulle televisie gekyk het.

Die mans het weggejaag met die egpaar se rooi Toyota-bakkie, geld en ’n vuurwapen. Die bakkie is Donderdagoggend by die Laerskool Bethulie gevind en die mans is nog op vrye voet.

Barbara Kruger, hul skoondogter, sê die mans het Marcia met ’n draad vasgebind en met ’n ysterstaaf in haar maag geslaan.

Marcia en Kallie Kruger is Woensdagaand in hul plaashuis op die plaas Schoonbeeksfontein aangerand en beroof. Foto: Verskaf

Kallie moes eers vir die twee mans wys waar die vuurwapens gebêre is voordat hy ook met ’n draad vasgebind is.

Hulle het hom herhaaldelik met die vuis geslaan tot sy oë toegeslaan is, sê Barbara, wat duskant die rivier aan die Oos-Kaap se kant saam met haar man, CD, boer.

“Hulle is baie getraumatiseerd, veral Marcia.”

Die mans het weggejaag met die egpaar se bakkie, asook ’n .22-rewolwer wat haar skoonpa aan hulle moes oorhandig. ’n Jaggeweer is net so op die bed gelos.

Kruger het omgerol en hom tot by die telefoon gesleep om sy buurman Jacques van Rensburg te bel. Van Rensburg het dadelik gery en al die bure het die paaie patrolleer. Kruger het sy rug in dié proses beseer.

Die polisie het twee stelle vingerafdrukke in die huis gevind. Die huis is omgedolwe en die polisie stel nog vas wat alles gesteel is.

Barbara sê hulle vermoed die aanvallers was vertroud met sake op die plaas, want hulle het “pertinent” die skeergeld, wat Kruger Woensdag gaan onttrek het, geëis.

“Hulle moes ook die omgewing ken, want hulle het geweet by watter uitgang daar nie ’n kamera is nie, want geen veiligheidskamera op die paaie het hulle opgetel nie.”

Anette, die egpaar se dogter, en haar man, Johan, staan hulle by op die plaas.

“’n Mens praat so oor die oumense wat so alleen op die plase is. Almal in die distrik is nou al geruime tyd bekommerd hieroor.”

Al sukkel haar skoonpa met sy sig en gehoor, boer hy nog voluit met die beeste, skape en ’n bietjie wild op die plaas.

Sy sê haar skoonouers sluit elke aand elke vertrek.

“Al wat hulle oophou, is die TV-kamer en hul slaapkamer se deure.”

Die polisie ondersoek die voorval en sal later kommentaar lewer.

Meer oor:  Bethulie  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.