Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bekende advokaat in Mitchells Plain doodgeskiet

’n Bekende Kaapse advokaat en landdros is Sondagaand by ’n vulstasie in Lentegeur in Mitchells Plain doodgeskiet.

Lentegeur-inwoners sê die voorval by die BP-garage in Clock Tower lyk asof dit ’n beplande sluipmoordaanval op adv. Vernon Jantjies (54) was, omdat hy eksklusief geteiken is.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê speurders volg alle leidrade op. “Daar word beweer dat die oorledene om 21:40 by die vulstasie-winkel uitgestap het toe daar op hom losgebrand is. Hy is op die toneel dood.”

Adv. Vernon Jantjies (54) wat Sondagaand doodgeskiet is. Foto: Facebook - WCgangwatch

Byron de Villiers van die Lentegeur-gemeenskapspolisiëringsforum het gesê die gebied was die afgelope tyd redelik stil, maar die gemeenskap is nou bekommerd omdat ’n advokaat en voormalige landdros in hul geweste geskiet is.

“Wat ons wel weet, is dat daar ’n motor stilgehou het, mense het uitgeklim en begin skiet en toe in die motor gespring en weggejaag.”

De Villiers sê daar is geen sprake dat dit ’n rooftog was nie en glo Jantjies was die teiken.

“Dit was ’n sluipmoordaanval. Almal weet dat die slagoffer ’n bekende Mitchells Plain-dwelmbaas in ’n hooggeregshofsaak verteenwoordig het.”

Volgens hom is daar kameras op die toneel, maar hulle weet nog nie of die kameras gewerk het nie.

Jantjies het een van die grootste vermeende dwelmhandelaars in Mitchells Plain, Fadwaan “Vet” Murphy, in die hooggeregshof in Kaapstad verteenwoordig.

Altesaam 229 aanklagte staar Murphy in die gesig, insluitend afpersing, geldwassery en dwelmhandel, wat verband hou met sy vermeende dwelmsakeryk.

“Die oorledene het voorheen ook vir die departement van justisie in die hof in Khayelitsha gewerk,” het brig. Potelwa gesê.

Enigiemand met inligting word versoek om die polisie se Stop Misdaadnommer, 08600 10111, te skakel.

Die moordtoneel in Lentegeur waar ’n Kaapse advokaat Sondagaand doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Meer oor:  Vernon Jantjies  |  Lentegeur  |  Misdaad  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.