Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bekende katamaran-bouer (78) dood ná rooftog

’n Bekende katamaranbouer van St. Francisbaai is Donderdagaand ná ’n rooftog in sy huis dood.

Duncan Lethbridge (78) was die stigter van St. Francis Marine en was tot sy aftrede in April aan die stuur van sake by dié maatskappy.

Duncan LethbridgeFoto: Facebook

Lethbridge, sy 76-jarige vrou en hul 53-jarige huishulp is deur twee gewapende rowers vasgebind en aangerand. Al drie se monde is tydens die rooftog met kleefband toegeplak.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, wou Vrydag nie Lethbridge se vrou se naam of dié van hul huishulp bekend maak nie. Albei die vroue is erg getraumatiseer en moes behandeling ontvang.

Die Lethbridge-egpaar en hul huiswerker is Donderdag om 17:00 by die egpaar se huis in Sardiniaweg oorval.

Swart sê die twee gewapende mans het eers die huiswerker, wat buite besig was, gekonfronteer.

“Die mans het haar by die huis ingedwing en vasgebind. Hierna is die egpaar, wat in die huis was, ook vasgebind en aangerand. Al drie slagoffers se monde is met kleefband toegeplak terwyl die verdagtes die huis vir waardevolle artikels geplunder het,” sê Swart.

Die verdagtes het tydens die rooftog die sleutel van die kluis geëis en een van die vroue gedwing om dit oop te sluit.

“Hulle het ’n onbekende bedrag geld asook ander waardevolle artikels gebuit voordat hulle weggehardloop het,” sê Swart.

Die huiswerker kon teen 19:00 daarin slaag om die bure se hulp te ontbied.

“Die bure het Lethbridge in die sitkamer aangetref waar hy met sy gesig na onder gelê het. Sy hande was steeds vasgebind en sy mond toegeplak. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.”

Die oorsaak van sy dood is in die stadium nog onbekend, luidens Swart.

Die polisie ondersoek ’n klag van moord en huisroof.

Brig. John Lebok, groepbevelvoerder vir Humansdorp, het die aanval op die egpaar ten sterkste veroordeel.

“Die polisie sal nie rus voordat die verdagtes in hegtenis geneem is nie. Speurders van St. Francisbaai volg alle moontlike leidrade op.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.