SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Misdaad
Bekende Kimberliete erg aangerand op plaas

Piet Els (86), een van Kimberley se bekendste sakemanne en inwoners, en sy lewensmaat, Rikkie Alsemgeest (66), is Dinsdagnag op hul plaas buite die stad aangeval en na bewering met ’n strykyster gebrand.

Hulle is Woensdagoggend na die hospitaal gehaas nadat hulle ernstige beserings opgedoen het.

Els se een seun, Adré, sê op sosiale media: “My pa en tannie Rikkie is albei met ’n strykyster gebrand en geslaan. Sy motor is op die pad tussen Kimberley en Barkly-Wes gevind.”

Hy het ook ’n foto van sy beseerde pa daarby geplaas.

Piet Els (86), een van Kimberley se bekendste sakemanne en inwoners, is saam met sy lewensmaat, Rikkie Alsemgeest (66), op sy plaas buite die stad aangeval. Foto: Facebook

Pieter, Els se ander seun, was baie ontsteld oor die aanval.

“Ek is by die hospitaal Dit gaan nie goed met my nie. My pa is beseer. Ek kan nie nou praat nie.”

Die beseerde bejaardes is vroegoggend deur die huishulp gevind waar hulle aan mekaar vasgebind was.

Volgens ’n ingeligte is een van die selfone wat gesteel is, se laaste sein naby Hoopstad en Bothaville opgespoor. Dit is egter onbekend in watter soort voertuig die aanvallers ry.

Els is ’n bekende wat talle eiendomme besit en Alsemgeest besit Kimberley Clothing.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die aanval het vermoedelik Dinsdagnag gebeur.

“Vier onbekende mense het die slapende paartjie in die huis oorval. Die besonderhede is nog vaag. Hulle het die slagoffers vermoedelik met ’n vuurwapen gedreig, hulle aangerand en vasgebind.

“Die verdagtes het na bewering die kluis met ’n hoekslyper oop gesaag en met aansienlik waardevolle besittings, ’n jaggeweer en ’n wit Mercedes-Benz-voertuig gevlug. Die voertuig is later op die R31-roete naby Phutanang in Kimberley opgespoor.

“Enigeen met inligting kan AO Patrick Dibebe by 082 752 2577 bel.”

Denise Coetzee, woordvoerder van die Mediclinic Gariep, het bevestig dat die beseerdes daar opgeneem is.

“Hulle moet skanderings ondergaan en sal dan in die hoësorgeenheid opgeneem word.”

Vriende van die familie het hul skok op sosiale media uitgespreek.

Jaydee Lockhart sê op Facebook: “Adré Els, Pieter Els en Niel Alsemgeest my hart is saam met julle stukkend, my lyf hoendervleis en ek is sommer ook woedend op dieselfde tyd! Eks baie, baie jammer om te hoor van oom Piet en tannie Riekie (sic). Ek bid vir hulle en julle sonder ophou. Mag God hulle genees, beskerm en julle troos. Mag God self daai mense (meer soos demone of diere) verantwoordelik hou hiervoor totdat vergelding bring. #Plaasaanvalle #noutenaby #Woedendenseer.”

Anélmie Nel wens hulle sterkte toe: “Ai, baie sterkte. Ons is ook op ’n plaas . . . Erg om elke dag op jou hoede te moet wees en te vrees vir (iets soos) dit om te gebeur. ’n Mens voel so magteloos!”

Cornell Poggenpoel beskryf ook haar skok.

“ ’n Mens hoor en sien daagliks van plaasaanvalle en mense wat deurloop onder die geweld in ons land en dis skokkend, maar sodra dit met iemand naby aan jou gebeur, verander die prentjie heeltemal. Ewe skielik spring daar hierdie haat en kwade gevoelens in jou binneste op en ’n mens weet nie hoe om dit te hanteer nie. Al wat oorbly is om op ons knieë te gaan en te bid. Niks en niemand anders kan ’n verskil maak in hierdie land behalwe God die Almagtige nie. Adré Els en Pieter Els, ek dink vandag aan julle en ek bid dat julle pa en tannie Rikkie spoedig sal herstel. Die hoekoms en waarom sal ons nooit verstaan nie, maar Hy is die enigste een wat vir ons kalmte kan bring. Sterkte vir julle almal.”

Hou Netwerk24 dop vir meer inligting.

Meer oor:  Piet Els  |  Kimberley  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.