Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Belarus: Poetin maak stem dik
Pres. Wladimir Poetin van Rusland groet pres. Aleksander Loekasjenko van Belarus op 24 Junie vanjaar in Moskou.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het politieke magte in Belarus aangemoedig om hul meningsverskille deur debat te besleg.

Hy sê ook dié voormalige Sowjetrepubliek, ’n nabye bondgenoot van Moskou, het te doen met ’n ongekende vlak van inmenging van buite.

Belarus gaan sedert 9 Augustus gebuk onder massabetogings teen pres. Aleksander Loekasjenko se oorwinning in die presidentsverkiesing. Loekasjenko, wat reeds sedert 1994 as president regeer, se opponente beweer hy het geknoei met die verkiesing en eis dat hy bedank.

Rusland se steun is krities vir Loekasjenko se kanse om aan die bewind te bly en daarom hou kenners Moskou se uitlatings oor Belarus fyn dop vir enige tekens dat hy moontlik ’n magsoorname wil bewerkstellig.

“Ek hoop werklik die mense van Belarus lê die politieke volwassenheid aan die dag om kalm en sonder ophef ’n plaaslike politieke dialoog te skep tussen alle politieke magte, ten einde sy interne kwessies self uit te stryk sonder enige druk of inmenging van buite,” het Poetin op ’n aanlyn vergadering van die veiligheidsblok, waar Loekasjenko teenwoordig was, gesê.

Rusland het Loekasjenko oënskynlik ondersteun ten tyde van die onrus, maar daar is nou tekens dat Moskou wil hê hy moet die situasie kalmeer, met sy opponente beraadslaag en begin met die lank beloofde grondwetlike hervorming, ’n proses wat eindelik tot sy uittrede kan lei.

Loekasjenko het tot dusver net gepraat oor ’n moontlike verandering terwyl hy geweld gebruik het om grootskaalse straatbetogings in die kiem te smoor. Die mees uitgesproke opposisieleiers is opgesluit of het na die buiteland gevlug. Loekasjenko regeer al 26 jaar in Belarus – ’n land met ’n bevolking van 9,5 miljoen en wat Rusland as ’n belangrike buffer teen die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) beskou. Hy het Moskou en die Weste al dikwels teen mekaar afgespeel vir politieke en ekonomiese gewin uit die Kremlin.

Rusland het sy minister van buitelandse sake verlede week na Minsk gestuur om Loekasjenko aan te por om voort te gaan met die hervorming van die grondwet ten einde die oproer te stuit. Loekasjenko het self voorheen belowe om dit te doen, maar die proses het ’n stil dood gesterf. Loekasjenko het die volgende dag gesê hy sal uittree sodra ’n nuwe grondwet aanvaar word, maar het geen aanduiding gegee van wanneer dit sal wees nie. Betogers meen die hervormingspraatjies is bloot ’n vertragingstaktiek.

Loekasjenko het op Woensdag se vergadering van die kollektiewe veiligheidsverdragorganisasie (CTSO), wat deur Rusland gelei word, buitelandse inmenging geblameer vir die onrus in sy land en spesifiek verwys na Pole en die Baltiese state.

Hy het later sonder om bewys te lewer die Navo-lande daarvan beskuldig dat hulle ’n militêre mag saamstel om ’n gebied in die weste van Belarus te annekseer, berig die Russiese media. – Reuters

Meer oor:  Wladimir Poetin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.