Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Beleggers ‘dink aan wraak, moord’

Dit was vir Willie Möller (64) te goed om waar te wees: Drie jaar lank het Ben Otto hom elke maand R71 750 betaal vir sy R2,8 miljoen-belegging in Otto se toerisme-soekenjin RSA Search.

Past. James Potgieter (54) en sy vrou, Valerie (68). Foto’s: Elizabeth Sejake

Nou is sy geld, sy selfrespek en sy toekomsdrome daarmee heen.

Otto se winsdelingskema het in duie gestort en Möller, wat telkens sy maandelikse opbrengs in RSA Search herbelê het, moet probeer oorleef op ’n staatspensioen en ’n Sanlam-polis wat maandeliks R1 500 uitbetaal.

“My lewe is heeltemal verwoes deur ’n man wat homself as ’n predikantfiguur voorgedoen het. Hy het my plegtig beloof my geld is veilig by hom,” sê hy.

Möller het ook sy ma, Meisie Vosloo (88), se laaste R200 000 in RSA Search belê. Sy is in ’n rolstoel en daar is nou nie geld vir ’n heup-operasie om haar te help nie.

Wanneer jy by Ben aankom, teken hy prentjies vol grafieke wat wys hoe jou geld gaan groei.

Möller is een van 170 beleggers in RSA Search wat mekaar op sosiale media gevind het en nou saam ba­klei om hul geld – sowat R44 miljoen – terug te kry.

Magriet Otto (52), sameroeper van die groep, sê sy het R300 000 van haar eie geld en R600 000 van haar ma, Dorie Maritz (73), s’n belê.

Haar man, Willie (60), het R170 000 belê. Sedert sy op Facebook gevra het dat ander slagoffers haar kontak, het haar foon nog nie ophou lui nie, sê sy.

Hester Naudé (56)

“Die oproepe is hartverskeurend.

“Mense worstel met wraakgedagtes, moordgedagtes, selfmoordgedagtes. Hulle is oorweldig deur selfverwyt. Baie van hulle moet nou op welsyn, staatspensioene en aalmoese van weldoeners, vriende en familie oorleef.”

Sy sê al die beleggers se storie oor hoe hulle by die skema ingetrek is, is dieselfde.

“Wanneer jy by Ben aankom, teken hy prentjies vol grafieke wat wys hoe jou geld gaan groei en hy hamer op die rente wat jy kan verdien. Jy kry nie kans om mooi te dink nie en hy sal sommer saam met jou bank toe gaan om jou geld te trek. Anders bel hy jou elke tien minute om seker te maak jy betaal die geld in sy bankrekening in.”

Henk van Biljon (57)

Past. James Potgieter (54) en sy vrou, Valerie (68), het in November R300 000 namens hul gemeente by Otto belê en die eerste drie maande hul 3%-opbrengs van R9 000 ontvang. Dit het in April gestop.

“Ons het alles verloor,” sê hy.

“Ons moet nou self op welsyn staatmaak. As ek nie die Here gehad het nie, het ek nou selfmoord gepleeg.”

Ria Hannekom (55)

Henk van Biljon (57) van Klerksdorp het in 2019 R1,4 miljoen belê nadat hy op RSG ’n advertensie gehoor het vir dié “belegging van ’n leeftyd”. Hy het ’n jaar lank ’n opbrengs van 3% gekry – R336 000 in totaal. “Om ’n miljoen rand te verloor is nie grappies nie. Dit het my baie seer gemaak.”

Hester Naudé van Stilfontein het R900 000 van haar man se erfgeld belê nadat hy in Oktober 2018 oorlede is. “My makelaar het gesê ek moet pasop vir Ben, maar Ben het my omgepraat met waarborge van groot winste. Ek het hom vertrou.”

Ria Hannekom (55) van Orkney het in April R1,4 miljoen belê nadat sy ook Otto se advertensies op RSG gehoor het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.