Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Beloning van R1 m. aangebied ná geldwa in Pta beroof is

Die SBV-veiligheidsdiens bied ’n beloning van R1 miljoen aan vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die transitorowers wat Dinsdag ’n geldwa in Laudium, wes van Pretoria, aangeval het.

Die toneel in Laudium-plein in Pretoria kort ná die transitorooftog Dinsdag.Foto: Verskaf

“Ons versoek mense wat enige inligting het oor dié of enige ander transitorooftog om dadelik die owerhede te kontak.

“SBV het ook ’n vroeë waarskuwingsnoodlyn oor rooftogte wat 24/7 beman word. Inligting word deurgegee aan ons ondersoekspan en alle oproepe word vertroulik hanteer,” sê die diens Woensdag in ’n verklaring.

Twee lede van ’n span van vier wagte is Dinsdag beseer toe ’n groep gewapende rowers hulle in ’n sakekompleks aangeval het.

Volgens bronne is “miljoene rande” geroof, maar nie die polisie of SBV wil in hierdie stadium ’n bedrag bekend maak nie.

Die SBV-geldwa het net ná 14:00 voor Standard Bank op Laudium-plein gestaan en die wagte het pas die geld uit die bank gebring en in die vragruim gelaai toe ’n bakkie agter hul intrek.

Die bank is geleë in ’n sakekompleks in Tangerine-straat met net een in-/uitgang wat die silwer Toyota Hilux toe versper het.

Mark Barrett, uitvoerende hoof van SBV, het kort ná die rooftog gesê SBV-werknemers is opgelei om standaard-operasionele prosedures te volg om aanvalle te vermy en die veiligheid van die publiek te verseker.

Twee wagte, onderskeidelik 24 en 25 jaar oud, is lig beseer in die aanval en ontvang steeds, volgens SBV, behandeling.

Niemand is egter in die aanval gewond nie.

Nadat die rowers die wagte oorrompel het, het hulle die sakke vol buit uit die geldwa na die wagtende bakkie gedra. Daarna is die wagte by die vragruim van die geldwa ingedwing.

Lt.kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê vyf verdagtes, gewapen met ’n geweer en pistole, het een SBV-lid met ’n pistool oor die kop geslaan, terwyl die ander een beseer is toe hy uit die voertuig se stuurkajuit moes spring en geval het.

Die aanvallers het naas die geld ook die wagte se drie handwapens en ’n geweer geroof.

“Die verdagtes het weggejaag in ’n silwer 2012-model Toyota Hilux-bakkie met die registrasienommer BB 81 HV GP, het Mogale gesê.

Sy het Woensdag gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Mark Barrett, uitvoerende hoof van SBV, het kort ná die rooftog gesê SBV-werknemers is opgelei om standaard-operasionele prosedures te volg om aanvalle te vermy en die veiligheid van die publiek te verseker.

* SBV se noodlynnommer is 083 408 7029.

Meer oor:  Sbv-Veiligheidsdiens  |  Laudium  |  Pretoria  |  Geldwa  |  Beroof  |  Beloning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.