Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Beloning van R50 000 uitgeloof ná wapens by polisie gesteel word

’n Beloning van R50 000 is Dinsdag deur die Valke uitgeloof vir enigeen met inligting wat tot die inhegtenisneming en vervolging kan lei van die mans wat die Tsineng-polisiekantoor naby Hotazel van ’n groot getal wapens beroof het.

Die beloning is uitgeloof nadat Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag op ’n mediakonferensie oor die slagting in Phoenix, KwaZulu-Natal, gesê het die voorval by dié Noord-Kaapse polisiekantoor word nie met die onluste in plundering in KwaZulu-Natal verbind nie.

Ofentse Mokae, DA-LPW en woordvoerder vir vervoer, veiligheid en skakeling, tydens sy toesigbesoek aan die Tsineng-polisiekantoor.

Die Tsineng-polisiekantoor, wat in ’n verafgeleë deel van die Kalahari geleë is, is Saterdag omstreeks 21:30 deur drie mans beroof terwyl slegs ’n vroulike polisielid aan diens was.

Die beampte se kollega was op patrollie in die woonbuurt toe die drie mans die polisiekantoor binnegekom en haar met vuurwapens gedreig het om die kluis se sleutels aan hulle te oorhandig.

Die mans het drie R5- semi-outomatiese wapens met twee magasyne en 37 patrone, twee haelgewere met 103 patrone en agt 9 mm-pistole met vyf magasyne en 98 patrone gebuit.

Die polisielid is daarna vasgebind en die mans het met haar selfoon gevlug.

Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder, sê geen skote is afgevuur nie en die beampte is nie beseer nie.

Die Valke doen ’n beroep op enigeen met inligting om kol. Mgcineni Christopher Sityodana by 071 481 2802, of ao. Michael Modise Bogacwi by 082 495 0819 te bel.

“Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word,” sê Mnisi.

Intussen het die DA Dinsdag ’n toesigbesoek aan die Tsineng-polisiekantoor gebring.

Ofentse Mokae, DA-LPW en woordvoerder vir vervoer, veiligheid en skakeling, sê dit is kommerwekkend dat die polisiekantoor, wat reeds te min hulpbronne het en die inwoners in 43 omliggende dorpe moet beskerm, van so baie wapens beroof is.

“Ek is ingelig dat die polisie se waarnemende provinsiale kommissaris, genl.maj. Joey Kers, die polisiekantoor Sondag besoek het om ’n volledige verslag oor die voorval te doen.”

Mokae sê die DA is veral bekommerd omdat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

“Ons neem egter kennis dat ’n multidissiplinêre ondersoekspan van die Valke en die taktiese eenheid besig is om die oortreders te probeer vastrek.”

Mokae sê hy is ook bekommerd oor stellings wat Cele Dinsdag op televisie gemaak het.

“Dit lyk asof Cele die erns van die rooftog probeer wegpraat. Terwyl hy genoem het dat berigte oor dreigende aanvalle op polisiekantore en ammunisiedepots vals nuus is, maak dit nie die voorval minder ernstig nie.”

Hy sê dit beteken nie omdat Tsineng ’n klein polisiekantoor is wat aangeval is, dit die bedreiging minder ernstig maak soos Cele impliseer nie.

“Daar is immers heelwat klein, onderbemande polisiekantore in hierdie provinsie en die land. ’n Aanval op ’n polisiekantoor is ’n aanval op die staat, en dit sal ’n fout wees vir Cele, die polisie en die veiligheid- en justisie-groep om die rooftog as minder ernstig te beskou.”

Meer oor:  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.