Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Beloning vir vastrek van hoewe-verkragbende

’n Beloning van R20 000 is uitgeloof vir die vastrek van ’n bende rowers wat die afgelope week vermoedelik twee vroue op verskillende hoewes in die Onderstepoort-omgewing digby Pretoria verkrag het.

Dít nadat ’n 26-jarige man erg aangerand en sy 24-jarige vriendin verkrag is in ’n aanval vroeg Saterdagoggend op die hoewe waar hulle woon. Hul name word voorlopig weerhou omdat die vrou ’n slagoffer van ’n seksuele aanranding is en nog nie toestemming gegee het dat haar naam gepubliseer mag word nie.

Cobie Jansen van Rensburg, voorsitter van die sektor 3-gemeenskapspolisiëringforum in Pretoria-Noord, glo die rowers wat hulle aangeval het, is dieselfde mense wat ’n ander vrou Maandagoggend op ’n hoewe in dieselfde omgewing verkrag het en steeds op vrye voet is.

Jansen van Rensburg sê die bende is vermoedelik al ’n paar weke in die omgewing doenig. Hulle slaan tipies eers op werkers se huise toe, voordat hulle die hoofhuis teiken.

Teen laat Saterdagoggend het die gemeenskap en die polisie saam in die Onderstepoort-omgewing na die verdagtes gesoek.

“Die polisie is fantasties. Hulle was vinnig hier ná die aanval (Saterdag) en het deur hul skofte gewerk,” sê Jansen van Rensburg.

Die man en vrou wat Saterdagoggend aangeval is, woon in ’n woonstel op sy ma se hoewe.

Die rowers is ook vort met ’n televisie, haelgeweer, twee selfone en klere ter waarde van R12 000.

“My seun was ná die aanval half histeries. Hy het sy hande stukkend baklei,” vertel die ma. “Hy het verskriklik gehuil, maar sy vriendin was kalm.”

Volgens die ma het sy omstreeks 02:00 Saterdagoggend ’n oproep van mense in die omgewing gekry dat verdagtes besig is om in erwe rond te beweeg. “My seun het kort daarna by ons deur om hulp kom roep.”

Hy en sy vriendin het oop wonde aan onder meer hul koppe gehad waar die aanvallers hulle met ’n grendelsnyer geslaan het.

Hulle het vertel hulle het wakker geword met wapens teen hul koppe. Twee ongemaskerde rowers wou by hulle weet wie in die groot huis op die erf woon en hoeveel werkers op die perseel is.

“Die rowers het gesê hulle gaan terugkom,” vertel die man se ma. “Hulle het my seun na ’n ander vertrek geneem voordat hulle sy vriendin verkrag het.”

Die rowers het klaarblyklik toegang tot die woonstel verkry deur die slotte van ’n traliehek af te knip. Daar was bloed by dié hek van vermoedelik een van die rowers.

Die man en sy vriendin is na ’n hospitaal geneem, waar X-straalfoto’s geneem sou word, onder meer om vas te stel of die man se heup gebreek is. Hy het ná die aanval van erge heuppyn gekla.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder in Gauteng, het die aanval bevestig en gesê niemand is teen laatoggend vasgetrek nie. Volgens hom het die rowers ook met die man se wapen gevlug. “Hy het hulle daarmee probeer skiet, maar hulle het hom oorval en die wapen by hom afgeneem.”

Die rowers is ook vort met ’n televisie, haelgeweer, twee selfone en klere ter waarde van R12 000.

Meer oor:  Onderstepoort  |  Pretoria  |  Misdaad  |  Verkragting  |  Hoewe-Aanval  |  Bende
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.