Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bende dalk betrokke by moord op Pretoria-man in Limpopo
Len Pretorius (60) en sy vrou, Joey (52). Foto: Facebook/JoeyPretorius

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat ’n bende wat mense in die Tonteldoos-area in Limpopo beroof, betrokke was by die moord op ’n man van Pretoria.

Len Pretorius (60) is Vrydagaand koelbloedig doodgeskiet in ’n rondawel by die Bushboys Camp & Cottage in Tonteldoos.

Hy en sy vrou, Joey, sou die naweek in dié gebied gaan fietsry.

Drie mense het Vrydagaand omstreeks 20:30 teen ’n venster van die rondawel geskop. Pretorius het die gordyn weggetrek en in drie gewapende aanvallers vasgekyk.

Sy vrou het gesê hy het probeer om hulle te beskerm deur ’n tas te gryp en dit na die venster te swaai.

"Hy het verstrengel geraak in die gordyn, die venster het gebreek en toe skiet hulle hom."

Joey Pretorius (52) en haar man, Len (60), wat Vrydagaand in Limpopo vermoor is. Foto: Facebook/JoeyPretorius

Die koeël het Len in sy gesig getref. Hy het in minder as vyf minute doodgebloei.

Die aanvallers het in die rondawel ingestorm, Joey teen haar kop geklap en met R150 sowel as Pretorius se beursie gevlug.

Volgens inligting van die plaaslike buurtwag was daar verlede week ook ’n inbraak in die omgewing waar drie mense glo betrokke was.

Nóg ’n gewapende rooftog waar drie aanvallers Saterdagaand in ’n informele woonbuurt toegeslaan het, is by die polisie aangemeld. Twee van die aanvallers dra klapmusse. Die derde een het glo ’n ligte gelaatskleur.

Intussen het Joe Holmes, eienaar van Bushboys Camp & Cottage, die hulp van oudkol. Gawie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke (BMO) ingeroep om die polisie met die ondersoek te help.

Louwrens sê hulle ondersoek die moontlikheid dat dieselfde bende by Pretorius se moord en die ander rooftogte betrokke was.

Dit kan nog nie bevestig word dat twee van die drie bendelede moontlik vroue is nie.

Holmes het gesê hy het gedink dit is veilig in die Tonteldoos-gebied en dat hulle nog nooit voorheen met misdaad gesukkel het nie.

Joey het gesê daar is nie diefwering voor die vensters van die rondawels nie. "Die eienaars het ons verseker dit is veilig en dat hulle nog nooit enige misdaad ervaar het nie. Nou is my man dood."

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, sê die soektog na Pretorius se moordenaars duur voort.

Pretorius was ’n markagent by die Pretoria Varsproduktemark. Hy en Joey is in Maart getroud en hy het op 31 Oktober sy 60ste verjaardag gevier.

"Len het die lastige duwweltjies wat in die voetpad groei van sy vriende, sy vrou en kinders altyd uitgehaal sodat hulle nie hoef seer te kry nie," lui die kennisgewing van sy begrafnis wat Vrydag om 13:00 uit die Ewige Lig-kerk in Tibouchina-straat in Montana in Pretoria gehou word.

Die venster by die Bushboys Camp & Cottage n Limpopo waar 'n Pretoriase man doodgeskiet is. Foto: Facebook/JoeyPretorius

Meer oor:  Tonteldoos  |  Doodgeskiet  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.