Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bende dreig om ‘korrupte polisie vrek te skiet’

Koeëls het Donderdagoggend gevlieg toe ’n wilde skietery tussen polisie en bendelede in die Kreefgat-woonbuurt in Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte in Kaapstad uitgebreek het.

Lede van die polisie moes koes nadat bendelede na bewering op hulle losgebrand het.

Die skietery het ’n groot verkeersopeenhoping in spitsverkeer langs Robert Sobukwe-rylaan veroorsaak, terwyl motoriste en passasiers die skietery met hul selfone afgeneem het.

Volgens inwoners van die gebied het lede van die Terrible Josters glo op die polisie losgebrand. Die polisie was op soek na verdagtes wat vroeër in ’n skietvoorval in Valhalla Park betrokke was waar een mens doodgeskiet is.

Vermeende bendelede het kort daarna gewaarsku dat die voorval die begin van ’n bloedbad teen korrupte polisielede sal wees.

Onderwysers by die Klipfontein Primary School, wat in die hartjie van Kreefgat geleë is, kon weens die skietery nie by die skool uitkom nie.

Ismail Meyer, die skoolhoof, het bevestig dat slegs die helfte van sy onderwysers omstreeks 07:30 op hul pos was, terwyl die res wat nog op pad was buite die gebied moes bly totdat die skietery verby is.

“Die ingang na Kreefgat was versper en hulle is eers omstreeks 10:30 toegelaat om weer in te kom,” het Meyer gesê.

Meyer sê sy leerlinge was egter veilig in die skool.

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die voertuig vroeër vandeesmaand in Table View gekaap is.

Lt.kol Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die voorval hou verband met die dood van ’n man wat omstreeks 06:30 op die hoek van Agnes- en Edmundstraat in Valhalla Park doodgeskiet is en ’n ander mens wat gewond is toe daar op hulle losgebrand is.

Volgens Traut het die aanvallers in ’n silwer Mini Cooper van die toneel gevlug.

Dié voertuig is later verlate langs Robert Sobukwe-rylaan gekry en die verdagtes het te voet in die rigting van Kreefgat gevlug.

“ ’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die voertuig vroeër vandeesmaand in Table View gekaap is.”

Ingeligtes in bendekringe het egter die blaam vir die voortslepende bendegevegte voor die deur van Ralph Stanfield, die vermeende bendebaas van die 28’s, se deur gelê.

Donker rookwolke hang oor Kreefgat in Bonteheuwel.

“Die Terrible Josters is gatvol omdat Stanfield van die plaaslike polisielede na bewering in die sak het. Die grootkoppe van die polisie vreet uit Stanfield se koffers. Hulle is almal skelm en korrup,” het die bron gesê.

’n Sleutelfiguur in die Kaapse bendewêreld, wat anoniem wou bly, het gesê die manskappe in Bonteheuwel, Bishop Lavis, Mitchells Plain en Kensington het nou genoeg gehad daarvan dat Stanfield glo na bewering die polisie gebruik om sy kompetisie uit die weg te ruim, dat hy polisiebegeleiding na sy garage toe kry en dat hy die polisielede omkoop.

“Hy wil oral oorvat, al kom hy nie eers van die gebiede af nie. Die bendes sê nou hulle het besluit dat hulle die korrupte polisiemanne gaan teiken. Die manne gaan die polisie vrek skiet, want hulle gooi net nog olie op die vuur en dinge gaan handuit ruk,” het die bron gesê.

’n Bendelid met noue bande met die Josters sê daar was ’n vredesooreenkoms wat destyds tussen die Josters en Colin Stanfield gesluit is, en Ralph het dit binne ’n oogwink verbreek toe sy manne ’n lid van die Josters ’n paar weke gelede in Valhalla Park doodgeskiet het. “Dit het die bloedbad begin.”

In bendekringe staan die dodetal in bendeskietery in die gebied nou reeds op 14.

“Meer mense gaan doodgaan as die polisie nie hul vrot appels op stasievlak verwyder en Stanfield vasvat nie,” het ’n ander bron gesê.

Meer oor:  Kaapstad  |  Polisie  |  Korrupsie  |  Bende
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.