Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bende-eenheid: Aanvallers van huis tot huis gesoek

Huis vir huis. Straat vir straat. En woonbuurt vir woonbuurt.

Dít is hoe ernstig die polisie is om die aanvallers aan te keer wat vyf polisiebeamptes verbonde aan die Wes-Kaapse bende-eenheid gewond het.

Die aanval het plaasgevind in die informele nedersetting Sweet Home Farm by Samora Machel.

Bheki Cele, die minister van polisie, het gister die lede van die bende-eenheid wat tydens ’n operasie in die Samora Marchell-informele nedersetting geskiet is, besoek. Sharlene Florence (links) luister saam met haar seun Glayson (6) na Cele. Haar man, konst. Freddie Florence is in ’n kritieke toestand in die hospitaal. Foto: JACO MARAIS

Ure ná die skietery het die eerste deurbraak gekom toe een van die aanvallers in die Paarl-hospitaal met skietwonde deur die polisie aangekeer is.

Bheki Cele, minister van polisie, het by die Gatesville Melomed-hospitaal in Athlone gesê die polisie gaan nie toelaat dat ’n “parallelle regering uit die onderwêreld” die land regeer terwyl daar ’n verkose demokratiese regering is nie.

Cele het die gewonde polisiebeamptes, vergesel van senior polisiebestuur in die Wes-Kaap, besoek.

Hy het gesê die polisie gaan binne die raamwerk van die land se Grondwet bly, maar hulle gaan terugslaan.

“Ek het besef dat ons hier in die Wes-Kaap, veral op die Kaapse Vlakte, met georganiseerde misdaad en wreedaardige misdadigers te doen het.”

Cele het aangekondig dat ’n 72-uur-aksieplan in werking gestel is.

Die aksieplan behels onder meer die ontplooiing van 200 polisiebeamptes bestaande uit die spesiale taakspan, die intervensie-eenheid en die onluste-eenheid.

Dié lede gaan vir die volgende 72 uur in Samora Machel ontplooi wees om te soek na die mense wat die lede van die bende-eenheid aangeval het.

Genl.maj. Jeremy Vearey, provinsiale speurhoof, het gesê die polisielede gaan afgelos word, maar daar sal vir dié 72 uur altyd 200 lede aan diens wees.

Samora Machel gaan blok vir blok afgekordon word en elke huis en elke gebou in die woonbuurt sal deursoek word totdat die mense en die vuurwapens wat hulle gebruik het in die aanval gevind word.

Een van daardie verdagtes het die polisie na die huis in Sweet Home Farm gelei, waar daar toe op hulle geskiet is, vermoedelik met ’n outomatiese aanvalsgeweer.

“Vind ons dit nie en lei inligting ons na ander gebiede, soos byvoorbeeld, Khayelitsha, Kruispad of selfs Elsiesrivier of Delft, dan sal ons dieselfde strategie volg.”

Cele het hierna gesê hy weet daar gaan nou gevra word of die lede se opleiding genoeg was.

“Ja, hulle is goed opgelei, maar hierdie tipe ding kan met enige eenheid gebeur. Drie maande gelede het ek ’n lid van die spesiale taakspan begrawe, en julle weet wie dit is.”

Hy het ook gesê daar moet besef word dat polisiëring nie net is om mense in handboeie te sit en in hegtenis te neem nie.

“Polisiëring begin by almal van ons. En nou is nie die tyd om hare te kloof met ander regering-afdelings nie, maar miskien is dit tyd om die speelvlakke vir die polisie te verbeter.”

Hy het gesê inwoners van Samora Machel sal vir eers geduldig met die polisie moet wees, “maar moet weet dat ons nog beter gaan vaar”.

Vearey het gesê hulle weet dat die misdadigers inwoners gaan intimideer om vir hulle skuiling te gee of hulle vuurwapens te berg, maar hy het inwoners gewaarsku dat die misdadigers, die mense wat die aanval op die polisie gelei het, gevind sal word.

Die polisiebeamptes is aangeval terwyl hulle op pad was na die huis van die verdagtes wat gesoek word in verband met die moorde van vyf mans verlede Donderdagaand by ’n huis in Blikkiesdorp.

Een van daardie verdagtes het die polisie na die huis in Sweet Home Farm gelei, waar daar toe op hulle geskiet is, vermoedelik met ’n outomatiese aanvalsgeweer.

Vearey het gesê dat hulle gister in hul soektog na die aanvallers reeds beslag gelê het op ’n vuurwapen wat vermoedelik gebruik is in die aanval op die bende-eenheid-lede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.