Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bende-eenheid onder skoot: Verdagte in hospitaal gekry
Konst. Freddie Florence is in sy kop, arm en een been gewond. Foto: Verskaf
Konstabel Edwell Le Grange is in sy heup gewond. Foto: Facebook
Sers. Frederick (Freddy) Lodewyk is in albei sy bene gewond. Foto: Facebook
Konst. Byron Diedericks is in sy linkervoet en maag gewond. Foto: Facebook
Die man (26) is met ’n skietwond in die Paarl-hospitaal opgespoor. Hy word verbind met die skietvoorval Woensdagoggend toe lede van die bende-eenheid in Sweet Home Farm by Samora Machel aangeval is. Foto: Verskaf

Een van die mans wat Woensdag in die informele nedersetting Sweet Home Farm by Samora Machel op lede van die Wes-Kaapse bende-eenheid geskiet het, is Woensdag in die Paarl-hospitaal met ’n koeëlwond opgespoor.

Sweet Home Farm en Samora Machel val onder die Nyanga-polisiekantoor.

Minstens nog een verdagte word gesoek in verband met die skietery. 

Die lede van die bende-eenheid was op soek na twee van die drie mans wat betrokke was by die skietvoorval verlede Donderdagaand in Delft waarin vyf mans by ’n huis in Blikkiesdorp doodgeskiet is. ’n Sesde man is in dié skietery in die gesig gewond

Een van die mans betrokke by die Delft-skietvoorval is vroeër in hegtenis geneem. Omstreeks 02:15 is sewe lede van die Wes-Kaapse bende-eenheid na Sweet Home Farm saam met die man wat reeds in hegtenis geneem is.

Hy het hulle gelei na ’n plakkershut, waar die ander twee aanvallers vermoedelik was.

Omstreeks 02:30 is geskiet op die sewe uniform-lede van die bende-eenheid. ’n Bron in die polisie het Woensdag gesê hulle vermoed ’n outomatiese geweer is gebruik.

Vier van die sewe polisielede is raakgeskiet.

Konst. Freddie Florence (42) is in sy kop, arm en een van sy bene gewond. Sy arm is gebreek deur die impak van een van die koeëls. Hy is kort voor 07:00 met ’n ambulans na die Gatesville Melomed-hospitaal in Gatesville, Athlone, gebring. Kort voor 10:00 is Florence by die operasieteater ingestoot waar dokters die koeël in sy kop, die een in sy arm en die een in sy been verwyder het.

Florence het verlede jaar van die taktiese reaksie-eenheid na die bende-eenheid geskuif.

Sy kollega Edwell Le Grange is in sy heup gewond. Le Grange het Woensdag in sy hospitaalbed by die Gatesville Melomed-hospitaal gesê hy is oukei. “Ek kan ongelukkig nie met die media praat nie.”

Konst. Andries Diniso is aan die linkerkant van sy gesig en in sy rug gewond. Nog ’n kollega, konst. Byron Diedericks, is in sy linkervoet en maag geskiet. Sers. Frederick (Freddy) Lodewyk is die vyfde lid van die bende-eenheid wat gewond is. Hy is in albei bene geskiet. Diniso, Diedericks en Lodewyk is na die Tokai Melomed-hospitaal gebring.

’n Sesde lid van die eenheid het sy knie seergemaak. Dit is nie bekend na watter hospitaal hy gebring is nie.

Sharlene Florence (40), Florence se vrou, het Woensdag gesê dokters het vir haar gesê haar man is baie ernstig beseer en die prognose lyk nie goed nie. “Maar ons dien mos ’n lewende God”.

Nou hoop en bid hulle, sê Sharlene.

Sharlene sê die koeël in sy kop het haar man se skedel deurgedring en die been is versplinter.

Sy het Dinsdag kort ná 19:00 nog met haar man gepraat. Sy wou by hom weet hoekom hy so stil is? “Hy het vir my gesê hulle werk gou. Hy sal later weer praat.”

Toe kom daardie oproep.

Florence het in 2007 by die polisie aangesluit. Hy en Sharlene is tien jaar getroud en het twee kinders, 14 en ses jaar oud.

Lede van die bende-eenheid het gesê hulle het meer as 38 koeëldoppies op die toneel getel.

Genl.maj. Jeremy Vearey, provinsiale speurhoof het Woensdagmiddag gesê dat hulle reeds ’n vuurwapen wat vermoedelik in die aanval op die bende-eenheid gebruik is, gevind het.

Bheki Cele, minister van polisie, het die aanval veroordeel en aangekondig dat die polisie ’n 72-uur-plan in werking gestel het om die aanvallers op te spoor.

Meer oor:  Nyanga  |  Wes-Kaap  |  Bendegeweld  |  Skietvoorval  |  Verdagte  |  Bende-Eenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.