Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
'Bendebaas' een van sewe wat in huis doodgeskiet is

’n Vermeende bendebaas wat Dinsdagmiddag by ’n huis in Scottsville, Pietermaritzburg, deur die polisie doodgeskiet is, was een van die gevangenes wat in April vanjaar uit ’n polisievangwa ontsnap het.

Die man, wat deur aanklagte van moord, poging tot moord, verkragting, roof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in die gesig gestaar is, is een van sewe vermeende bendelede wat by die huis in Fairfieldlaan doodgeskiet is.

skietvoorval pietermaritzburg
Voertuie van die nooddienste en polisie in die straat voor die huis in Scottsville, Pietermaritzburg, waar die polisie sewe vermeende bendelede doodgeskiet het. Foto: Moeketsi Mamane, The Witness

Die man was in April vanjaar een van ’n klomp verhoorafwagtendes wat saam ontsnap het toe vyf gewapende mans op ’n polisievangwa toegeslaan het. Die vangwa, wat na die landdroshof in Pietermaritzburg op pad was, is voorgekeer en die slotte agteraan die voertuig is met ’n boutsnyer oopgeknip. Verskeie van die minstens 45 mense in die wa het ontsnap.

Dinsdag se skietery was in ’n huis langs die aanwysingsbord wat aan deelnemers aan die Comrades tussen Durban en Pietermaritzburg aandui daar is nog 2 km oor voor die einde van die wedloop op die Scottsville-perdewedrenbaan, berig Sarel van der Walt.

Die voorval het die middag omstreeks 15:00 plaasgevind.

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdagaand op die toneel bevestig ’n bendebaas wat die stad, en veral die gemeenskap van Imbali, geterroriseer het, is een van dié wat dood is.

“Hy het ’n langs lys van lasbriewe teen hom gehad.”

Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag in Scottsville, Pietermaritzburg, waar sewe vermeende bendelede doodgeskiet is. Foto: Moeketsi Mamane, The Witness

Cele, wat die media buite die huis te woord gestaan het, het ook gesê die bendebaas is “sowat ’n week of twee gelede beseer toe hy glo iemand wou vermoor”. Hy het glo by die betrokke huis “mediese hulp gekry”.

Cele sê daar is ook verskeie AK-47-aanvalsgewere op die toneel gevind.

“Die bende het ’n lekker lewe hier geleef met duur alkohol, enorme televisies en motors wat vermoedelik gesteel is,” sê Cele.

Kol. Thembeka Mbhele, provinsiale woordvoerder van die polisie, het Woensdag aan Netwerk24 gesê vier pistole, ’n haelgeweer en AK-47’s is op die toneel gevind.

“Die polisie het inligting ontvang dat ’n bende in die betrokke huis woon. Hulle het sedert begin Mei daar gebly,” sê Mbhele.

“Toe die polisie daar opdaag, is daar uit alle oorde op hulle geskiet.”

Sy sê twee gesteelde voertuie is ook op die toneel gevind.

“Onder die mense wat dood is, is vyf mans en twee vroue,” sê Mbhele.

Geen polisielede of ander veiligheidsmense is in die voorval beseer nie.

Mbhele wou nie Woensdag die identiteit van die oorledenes bekend maak nie en het ook nie gereageer op navrae oor hoeveel ontsnaptes nog op vrye voet is nie.

Een van die bure van die huis in Fairfieldlaan het vertel dat hy eers gedink het die geweerskote is ’n ontploffing. “Dit was amper soos ’n fliek. Toe ek die tweede skoot hoor, is ek na buite. Toe het ek die polisie gesien,” sê die man, wat anoniem wil bly.

Chirag Beekrum, wat ook in ’n nabygeleë huis woon, het vertel hy was op pad terug van die winkels toe hy die geweerskote hoor.

“Ek het eers gedink dis waarskuwingskote, maar het gou besef dit is ’n skermutseling. Ek was baie bang,” sê Beekrum.

Robbie Bruce, voormalige eienaar van die betrokke huis, sê hy is geskok oor die gebeure.

“Ons kan dit nie glo nie. Dit is net weer ’n bewys dat misdadigers reg onder ons neus is,” sê hy.

Hy sê hy was onder die indruk dat die nuwe intrekker ’n sakeman is.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Pietermaritzburg  |  Skietvoorval  |  Bendebaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.