Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bendebaas Staggie dood in koeëlreën voor sy huis
’n Familielid van Rashied Staggie (in die rooi-en-wit hemp) by die kar waarin hy Vrydagoggend in Londonweg in Soutrivier, Kaapstad geskiet is.Foto: Jaco Marais

Rashied Staggie, stigterslid en leier van die berugte Hard Livings-bende in Kaapstad, is Vrydag in Londonweg in Soutrivier doodgeskiet, op dieselfde plek waar Pagad-lede sy tweelingbroer, Rashaad, in Augustus 1996 geskiet en lewend aan die brand gesteek het.

Rashied en Rashaad was eens die magtigste bendelede in Manenberg op die Kaapse Vlakte totdat Rashaad destyds geskiet en aan die brand gesteek is toe ’n petrolbom in ’n Pagad-optog na hom gegooi is.

Ontstelde lede van die Hard Livings-bende sweer nou wraak oor Staggie se dood en sê hulle sal nie rus tot sy moordenaars opgespoor is nie.

Die Wes-Kaapse polisie het die skietvoorval bevestig.

“Forensiese kenners is op die toneel van die skietvoorval waar ’n 58-jarige man vanoggend in Londonweg, Soutrivier, geskiet en ernstig gewond is. Die man is dood toe hy by ’n nabygeleë aankom,” het brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, gesê.

Die polisie sê voorlopige inligting dui daarop dat die oorledene in sy voertuig gesit het toe twee onbekende skieters toeslaan en verskeie skote op hom geskiet het. Hulle het daarna weggehardloop.

“Misdaadtoneelkenners was tot laat op die toneel om die gebied vir leidrade te fynkam,” het Potelwa gesê.

Polisie soek leidrade op die toneel.Foto: Jaco Marias

Volgens haar het die Woodstock-polisie kort ná die voorval versterkings in en om die Soutrivier-gebied ontbied.

Bendelede wat noue bande met die Staggies het, het bevestig die aanvallers het hom in sy motor voor sy huis genader en op hom losgebrand.

“Die motor waarin hy gesit het, is vol koeëlgate en die sekerheidskameras by sy huis wys glo hoe twee verdagtes die voertuig nader en losbrand.”

Foto’s van die voertuig wys minstens 12 koeëlgate in die voorruit, een in die enjinkap en ’n ander aan die kant van die silwer Toyota Corolla.

Volgens vriende het sy seun hom na die hospitaal gehaas, maar hy het nie die aanval oorleef nie.

Bendelede soek glo al lank Staggie se bloed in die bloedige bendeoorloë wat die laaste tyd tussen die Hard Livings- en die 28’s-bendes woed.

Past. Ivan Waldeck, ’n goeie vriend van Staggie, het Vrydag gesê hy het nie woorde nie. “Ek is op pad na Rashied se huis en kan nie nou praat nie,” het hy gesê.

Dié skietvoorval kom slegs ure nadat Tauriq “Ballie Tips” Solomons, vermeende leier van die Hard Livings-bende in Westridge, Mitchells Plain, vermoedelik deur lede van die 28-bende doodgeskiet is.

Die toneel in Londonweg in Soutrivier.Foto: Jaco Marais
Die motor waarin Staggie gesit het.Foto: Verskaf
Die koeëlgate in Staggie se motor.Foto:
Meer oor:  Hard Livings-Bende  |  Bendgeweld  |  Bendes  |  Rashied Staggie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.