Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bendebaas van Phoenix in Umhlanga doodgeskiet

’n Bekende bendebaas en dwelmhandelaar van Phoenix naby Durban is Donderdag in die ondergrondse parkeerterrein van die Virgin Active-gimnasium by die Gateway-winkelsentrum in Umhlanga Rocks doodgeskiet.

Kalvin Periasamy (36) het uit die gimnasium gekom toe hy glo onder meer van agter in die kop geskiet is.

Hy en sy broer, Kevin Periasamy, is glo die leiers van die Bloods-bende in Phoenix.

Kalvin PeriasamyFoto: Facebook

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Sy sê Periasamy is verskeie kere raakgeskiet en is op die toneel dood.

“Die voorval word nog ondersoek.”

Die Periasamy-broers is volgens inligting eienaars van onder meer verskeie minibus-taxi’s en ’n insleepvoertuig-onderneming met die naam Odanes Towing.

Daar word beweer dat Periasamy se skietdood moontlik met die insleepvoertuigbedryf te doene het. Hy is glo gewaarsku om sy voertuie uit Durban te hou, maar het glo nie aan die waarskuwing gehoor gegee nie.

Die toneel waar Kalvin Periasamy Donderdag kort ná 10:00 in die ondergrondse parkeerterrein van die Gateway-winkelsentrum in Umhlanga Rocks naby Durban doodgeskiet is. Foto: Verskaf

In ’n foto wat op sosiale media geplaas is, lê Periasamy op die grond in die parkeerterrein in ’n plas bloed. Bloed loop by sy een oor uit en ’n wond kan aan sy agterkop gesien word.

Hy is glo meer as een keer geskiet.

Periasamy was veronderstel om saam met sy broer en nog ander vermeende lede van hul bende in die landdroshof in Verulam op dwelmverwante aanklagte te verskyn.

Hy is sowat ’n maand gelede op borgtog uit die tronk vrygelaat nadat hy in Maart in ’n polisieoperasie in hegtenis geneem is.

Die broers is aanvanklik in die Westville-gevangenis aangehou, maar is na die Ebongweni C-Max-tronk in Kokstad verskuif nadat dit aan die lig gekom het dat hulle planne het om te ontsnap.

Tydens ’n polisieklopjag vroeër vanjaar by hul huise het die polisie op meer as R97 000 kontant, twee pistole, ’n haelgeweer, 64 koeëls, 1 836 strooitjies heroïen, 30 Mandrax-tablette, drie sakke kokaïen, twee Ecstasy-pille en 186 g dagga beslag gelê.

Meer oor:  Phoenix  |  Umhlanga Rocks  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.